Vrystaat Landbou maan boere tot paraatheid met toename in plaasaanvalle

Vrystaat Landbou (VL) is ernstig besorg oor die toename in plaasaanvalle in die Vrystaat wat die afgelope week voorgekom het. Dit kom nadat ouer produsente die teiken van sodanige aanvalle geword het.

Tommie Esterhuyse, vise-president van VL, meen dit is onaanvaarbaar dat landbouers en hul werkers wat gedurende die COVID-19 inperking en elke dag, kos aan die land voorsien dan onderwerp word aan sodanige lafhartige en barbaarse optrede. Landbouers is in ‘n toenemende mate besig om binne die reg hulself te beskerm, soos wat die afgelope week in meer as een geval gebeur het. Hierdie optrede word genoodsaak deur die regering se versuim om sy burgers te beskerm teen misdadige elemente wat ook dikwels vanaf buurlande afkomstig is.

Gedurende die afgelope 6 dae was daar 3 plaasaanvalle in die provinsie, nl Kommissiepoort (aangrensend aan Tweespruit), Petrusburg en Zastron. Die aanvalle is deur 2 tot 5 aanvallers gepleeg wat die slagoffers ernstig aangerand het. Van die slagoffers het beenbreuke opgedoen en moes noodoperasies ondergaan.

Volgens Kempen Nel, die streekveiligheidsverteenwoordiger van VL in die Xhariep distrik, het boere baie vinnig gemobiliseer in die Petrusburg en aangrensende areas nadat die paniek kennisgewing Vrydagaand (26 Junie 2020) ontvang is. Die Polisie het ook vinnig gereageer en alle spesialiste het die toneel bygewoon opsoek na die drie aanvallers. Wat ‘n verdere bron van kommer is, is die video beeldmateriaal wat rondgestuur word van die weerlose slagoffers. Dit is ‘n teken van onsensitiwiteit en die verspreiding van sodanige material, moontlik sonder toestemming van die slagoffers, kan nie goedgekeur word nie.

In die Zastron / Rouxville area het die boer, Gert van der Walt, deur middel van ‘n stoeiery met twee aanvallers laatmiddag op Saterdag (27 Junie 2020) daarin geslaag om sy vuurwapen te bekom en is een van die aanvallers noodlottig gewond, volgens Martin de Kock, streekveiligheidsverteenwoordiger van die area. Die aanval in die Kommissiepoort (Tweespruit area) op Sondag 21 Junie 2020 is John Parr, sy vrou, skoonseun en kinders deur vyf aanvallers aangeval. Twee van die aanvallers is noodlottig gewond.

VL doen ‘n baie ernstige beroep op landbouers waar hul oor vuurwapens vir selfverdediging beskik, om hul gereedheidsvlakke op te skerp sodat hulle in gevalle van noodweer hulself en hul gesinne kan beskerm.

De Kock en Nel is beide van mening dat boere in die onseker tye hul paraatheid moet opskerp, die nodige selfverdedigingswapens moet dra, konstant skietoefeninge moet ondergaan omdat veiligheid eerstens by die boer self begin. Die vermoë van die boere om vinnige reaksie te toon, deur alarm te maak en hulself te verdedig, het duidelik daartoe bygedra dat aanvallers op die vlug slaan.

VL se Landelike Veiligheidskomitee voorsitter, Jakkals le Roux, doen weereens ‘n beroep op boere om by ‘n Landelike Beveiligingsplan in hul onderskeie areas in te skakel, om seker te maak dat sodanige plan opgedateer is, dat sektorleiers en reaksie groep lede opgelei is ten einde misdaadtonele te benader en te bewaar en om slagoffers van bystand te voorsien. Waar Plaaswagte bestaan, word hul versoek om georganiseerde skietoefeninge in landelike gebiede te reël vir deelname deur boerderygemeenskappe met inagneming aan voldoening aan Covid-19 regulasies.

Die polisie is op die hoogste vlak in die provinsie versoek om inoefeninge in die Landelike Beveiliging Strategie te heraktiveer waar dit in terme van die Covid-19 pandemie in sekere areas agterweë gebly het, dat verskerpte wit/blou lig patrollies van stapel gestuur word, dat Landelike Beveiligingskoördineerders van die polisie met toegewysde voertuie plaasbesoeke moet bring veral aan meer weerlose en ouer boere, hul gesinne en werkers woonagtig op plase. Boere moet ook seker maak dat hul kommunikasie- en ondersteuningsnetwerke in plek is en dat elkeen ’n gebeurlikheidsplan het oor hoe opgetree moet word wanneer ‘n aanval plaasvind.

Posted on by jonckie

Comments Off on Vrystaat Landbou maan boere tot paraatheid met toename in plaasaanvalle

Category: Veiligheid Tags :