Vrystaat Landbou teleurgesteld in NERSA se goedkeuring van Eskom Prysverhogings

Dit is vir Vrystaat Landbou (VL) ‘n reuse teleurstelling dat NERSA toegelaat het dat ESKOM R13,3 miljard van die R27,3 biljoen aan verliese wat ESKOM gedurende die boekjaar 2018-19 kan vorder.

VL doen al ‘n aantal jare voorleggings en vertoë tydens NERSA se openbare verhore en het al menigmaal sy afkeur vir die verhoging van tariewe bo inflasie aangedui wat meestal gedoen word weens die verliese wat gely word as gevolg van slegte bestuur en blatante korrupsie en nou blootgelê moet word. Elektrisiteit is ‘n belangrike insetkostekomponent van die meeste intensiewe voedselproduksiestelsels soos suiwel, varke, pluimvee en besproeiingslandbou (besproeiing alleen wat 25% van die voedselproduksie van die land uitmaak).

Hierdie verhoging sal die koste van ESKOM elektrisiteit vir ‘n betalende gebruiker met 6,5% verder verhoog. In die landbou sektor plaas hierdie prysverhoging uiteindelik druk op verbruikerspryse vir voedsel maar word aanvanklik opgeneem deur die boer wat ‘n prysnemer is.

Die geweldige skuld aan ESKOM wat deur nie-betalende munisipaliteite aangegaan is, blyk nie voldoende deur NERSA aangespreek te wees insoverre ESKOM gedwing moet word om hierdie skuld te verhaal nie. Na munisipale herverspreiders, is die landbousektor ESKOM se tweede grootste kliënt in die Vrystaat.

Verder het die staat ook ingestem om ‘n verdere reddingsboei vir hierdie Entiteit in Staatsbesit aan te bied, dit terwyl ‘n massiewe wolk van korrupsie en politieke asook staatskapingsaanklagte wat nog nie opgelos is nie, hang.

Beide die verhoging van tariewe en die koste van die reddingsboei kom daarop neer dat die produktiewe belastingbetalende burger toenemend meer gedruk word om ‘n ondoeltreffende, opgeblase en korrupte burokratiese stelsel te finansier. Hoe lank gaan dit duur voordat die stelsel in duie stort? NERSA erken egter regeringsmislukkings en dat verdere aanpassings onderworpe sal wees aan die uitslag van ondersoeke na hierdie mislukkings.

Alternatiewe hernubare energiebronne is al lank koste effektief, maar die burokratiese rompslomp in die toepassing en die koste van verbinding met die netwerk belemmer hierdie alternatief om meer bekostigbare voedsel vir die land te voorsien.

Francois Wilken

President van Vrystaat Landbou

Posted on by jonckie

Comments Off on Vrystaat Landbou teleurgesteld in NERSA se goedkeuring van Eskom Prysverhogings

Category: Algemeen Tags :