Vrouens al meer die teiken van plaasaanvalle in die Vrystaat

Vrystaat Landbou (VL) is ernstig besorg oor die 2 plaasaanvalle wat in die Vrystaat binne 12 ure van mekaar plaasgevind het op 22 en 23 Maart 2020. In beide die aanvalle, wat onderskeidelik in Bothaville en Tweeling plaasgevind het, is die produsente geteiken. Mev Wilna Swanepoel van die plaas Morester in die Bothaville distrik en mnr Dries van der Walt van die plaas Driekop in die Tweeling distrik is albei aangeval.

Swanepoel is met die aankoms by haar hek om nagenoeg 19h30 op 22 Maart 2020 deur 2 aanvallers oorval, na die koelkamer wat in die stoor is geneem waar sy met ‘n mes in haar long en arm gesteek is. Die aanvallers het met haar handsak gevlug wat haar selfoon bevat het. Sy is Maandagoggend gevind nadat familielede nie met haar in kontak kon kom nie.

Dries van der Walt is kort voor 6uur, nadat hy diere klaar gevoer het, deur ‘n aanvaller met ‘n vuurwapen by sy lapa gedreig, waarna nog 3 aanvallers aangesluit het. Hulle het hom in die huis gedwing, in die kamer toegesluit en verskeie vuurwapens uit die kluis geroof. Sy Nissan NP200 bakkie (reg nr HJF066FS) is ook geroof.  Die bakkie is later die oggend in die Reitz-omgewing verlate gevind. Dit blyk dat van der Walt verskeie kere met die vuis geslaan was, terwyl Wilna Swanepoel ernstig beseer is en baie bloed verloor het. Sy is tans in Klerksdorp gehospitaliseer.

Volgens dr Jane Buys, Veiligheidsrisiko-analis van VL, was daar binne die eerste week van Maart 2020 twee plaasaanvalle te Verkykerskop en Marquard waar 2 produsente aangeval is. Drie van die aanvalle in Maart 2020 was op vroulike produsente waar slegs een op ‘n man was. Gedurende Februarie 2020 is 3 aanvalle in die Vrystaat gepleeg waartydens 2 van hulle op vrouens was, ‘n produsent wie in die Soutpan-area boer en ‘n vrou wat op ‘n plaas woonagtig is. Die ander aanval gedurende Februarie 2020 was op ‘n manlike produsent te Vierfontein.

Gegewe die teikens, is dit kommerwekkend dat veral vroulike produsente wat ouer as 50 jaar is, aangeval word.

VL veroordeel alle aanvalle waar produsente, opkomende boere en selfs bestaansboere geteiken word, maar des te meer word aanvalle veroordeel waar vrouens en veral ouer vrouens die slagoffers van plaasaanvalle word.

VL se Landelike Veiligheidskomitee voorsitter, mnr Jakkals le Roux, doen ‘n beroep op vroulike produsente wat alleen op plase en of kleinhoewes woon, om in te skakel en betrokke te raak by hulle plaaslike landbouverenigings. Sodoende word hul deel van ‘n netwerk en struktuur binne die Landelike Beveiligingstrategie (LBS) met die polisie en word groter paraatheid en oplettendheid bevorder en kan hul ook met beter kommunikasiehulpmiddels toegerus word. ‘n Verdere beroep word op die Polisie, deur middel van die landelike veiligheidskoördineerders gedoen om teikengroepe bv. vrouens en ouer boere, hul families en ouer werkers gereeld te besoek, asook om kriminele beweging in landelike gebiede te monitor.

Volgens mnr Tommie Esterhuyse, Voorsitter van Agri SA se Landelike Veiligheidskomitee, wil dit voorkom asof plaasaanvalle die afgelope week in die land aan die toeneem is. Die voorkoms van die Corona-virus blyk ‘n impak op verhoogde wetteloosheid in landelike gebiede te hê t.o.v. ernstige geweldsmisdade (onder andere plaasaanvalle). Die beperking van persone se beweging ten einde die verspreiding van die virus te beheer, kan bydraend wees dat opportunistiese kriminele die boerderygemeenskappe as sagter teikens van misdade beskou.

Posted on by jonckie

Comments Off on Vrouens al meer die teiken van plaasaanvalle in die Vrystaat