Staatsamptenaar ry vas teen heining buite Oudtshoorn

Die bestuurder van ‘n VW Polo met ‘n staatsdiensregistrasie, is vanoggend hospitaal toe geneem nadat die voertuig die pad verlaat het en op ‘n heining beland het.

Volgens die bestuurder van ‘n ander voertuig, ‘n Fiat bakkie, het hy agter die Polo en ‘n Ford Focus gery. Hy het die Polo begin verbysteek toe die Polo op sy beurt ook na regs beweeg het om die Ford verby te steek.

Die bestuurder van die bakkie het uitgeswaai en ‘n padbord op die regter skouer van die pad getref. Hy kon egter daarin slaag om die bakkie veilig tot stilstand te bring.

Die bestuurder van die Polo het na links geswaai om die bakkie te vermy en beheer verloor.

Verskeie noodvoertuie met personeel van die Tuinroete distriksmunisipaliteit wat na ‘n kursus buite Oudtshoorn onderweg was, het op die ongeluk afgekom en hulp verleen.

[Oudtshoorn Courant]

Posted on by jonckie

Comments Off on Staatsamptenaar ry vas teen heining buite Oudtshoorn

Category: Veiligheid, Voertuig Tags :