Kontrolepunte sal help om siektes soos bek-en-klou én veediefstal te voorkom

Die instelling van kompartemente en beheerde kontrolepunte om die uitbreek van dieresiektes in die Vrystaat te voorkom. Dit is volgens Tommie Esterhuyse, Vise-president van Vrystaat Landbou (VL), van die voorstelle wat sy organisasie sterk steun nadat bek-en-klouseer wéér in Limpopo uitgebreek het.

Volgens hom sal dit nie net die provinsie teen siektes soos bek-en-klou beskerm nie, maar ook help om veediefstal, veral die vervoer van vee na veilingskrale buite die provinsie, te voorkom. “Dit sal egter vereis dat vervoerpermitte en die uitreik daarvan, byvoorbeeld waar diere oor internasionale en provinsiale grense beweeg, baie strenger afgedwing en deur die Suid-Afrikaanse Polisiediens toegepas moet word.”

Esterhuyse sê VL en die Vrystaatse Rooivleisprodusente-Organisasie (RPO) spreek hul ernstige kommer uit oor die jongste uitbreking van bek-en-klouseer. Dit is die tweede keer vanjaar wat die siekte in Limpopo uitbreek en dit het daartoe gelei dat ’n verbod op alle veilings van lewende hawe in Limpopo, Mpumalanga, Gauteng en Noordwes op 14 November 2019 deur die Departement van Landbou, Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling geplaas is.

’n Voorstel oor die hantering van bek-en-klou was die instelling van kompartemente. Esterhuyse sê dit is deur VL aan die provinsiale RPO oorgedra, wat dit aan sy nasionale liggaam en verskillende dieregesondheidsforums sal oordra.

“Dit word op die tafel van die president gelê dat as hy ernstig is oor beleggings in die land, hierdie soort probleme as ’n saak van dringendheid aangespreek behoort te word,” sê Esterhuyse. “Die regering is verantwoordelik vir die beheer van siektes en slegs doeltreffende en doelgerigte optrede kan die landbou, wat deel van die ruggraat van die ekonomie uitmaak, versterk en bydra tot werksgeleenthede.”

VL, die Vrystaatse RPO en Nasionale Wolkwekersvereniging het op 7 November 2019 ’n vergadering gehou waar verskeie aspekte, soos siektebeheer en sake van gemeenskaplike belang, bespreek is. Volgens Esterhuyse was die samewerking tussen die organisasies, wat rolverdeling en verantwoordelikhede insluit, op die agenda. Die doel was ook om duplisering van take uit te skakel.

Esterhuyse sê die Vrystaat word in baie kringe as die broodmandjie van die land beskou en die uitbreking van bek-en-klou kan daartoe lei dat produsente weer eens aan die kortste ent trek. “Die deurlopende aanslae van hierdie aard, saam met politieke onsekerheid én die grondkwessie, dra geensins by tot die kweking van gunstige toestande vir voedselproduksie in die landbousektor nie. Om die waarheid te sê dit hou wesenlike nadelige gevolge in vir voedselsekerheid.”

Volgens hom dra die droogte en uitbreking van sulke soort siektes boonop by tot verdere werksverliese.

 

Klik hier vir ’n mediaverklaring van Agri SA oor bek-en-klouseer.

Posted on by jonckie

Comments Off on Kontrolepunte sal help om siektes soos bek-en-klou én veediefstal te voorkom

Category: Gesprek Tags :