Vrystaat Landbou verwelkom ekstra voertuie om misdaad in Vrystaat te bekamp

Die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) het by ’n geleentheid by die Glen-landboukollege in Bloemfontein bekend gemaak dat 48 voertuie beskikbaar gestel word om landelike veiligheid op te skerp. Van links is Tommie Esterhuyse, Vise-president van Vrystaat Landbou (VL), Sam Mashinini, Vrystaatse LUR vir Polisie, Paaie en Vervoer, lt. genl. Moeketsi Sempe, Provinsiale kommissaris van die SAPD, en Jakkals le Roux, Voorsitter van VL se Landelike Veiligheidkomitee. Foto: Vrystaat Landbou

Vrystaat Landbou (VL) is verheug oor 48 ekstra voertuie wat vir landelike veiligheidkoördineerders by polisiestasies in die Vrystaat gegee word. Só het Tommie Esterhuyse, Vise-president van VL, gesê nadat dié voertuie deur die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) beskikbaar gestel is om te help om misdaad te bekamp.

Volgens hom is dit “ ’n historiese dag is vir landelike beveiliging” en het hy die gebaar verwelkom. Die voertuie sal slegs deur die polisie gebruik word om misdaad in landelike gebiede en landbougemeenskappe aan te spreek.

Sam Mashinini, Vrystaatse LUR vir Polisie, Paaie en Vervoer, het op 19 Julie 2019 by ’n geleentheid by die Glen-landboukollege in Bloemfontein gesê die voertuie gaan gebruik word om ernstige geweldsmisdade en veediefstal aan te spreek. Volgens Esterhuyse is dit ’n gegewe dat meer mannekrag en voertuie steeds nodig is.

Mashinini het ook beklemtoon dat die voertuie opgepas moet word, asof dit polisiebeamptes se eie is. Hy meen landbouers moet hul vee merk en gereeld tel en dat die Vrystaat ’n provinsie is waar landbougemeenskappe in vrede hul besigheid moet kan verrig.

Lt. genl. Moeketsi Sempe, Provinsiale kommissaris van die SAPD, het bevestig dat die voertuie as deel van fase een in die Landelike-beveiligingstrategie (LBS) uitgereik is om misdade in landelike gebiede, in samewerking met landbougemeenskappe, aan te spreek. Hy het ook gemeld dat veiliheidkoördineerders fleksietyd gaan werk na aanleiding van hul misdaad-patroon analise.

Sempe het VL bedank vir die goeie samewerking tussen die polisie en die organisasie. Hy het ook versoek dat landbouers die polisie se dienslewering moet evalueer en waar probleme ontstaan, die lyn van bevel of protokol oor klagtes gevolg moet word. “Landbouers moet nie reg in eie hande neem nie en alle wette nakom,” het hy gesê.

Volgens Esterhuyse het Genl. Khehla Sitole, Nasionale Kommissaris van die SAPD, tydens gesprekvoering met Agri SA gemeld dat hy georganiseerde landbou as ’n vennoot in die LBS sien.

Hy het op sy beurt klem gelê op die vertrouensverhouding en dat behalwe sameweking en verhoudinge daar gewerk moet word aan wedersydse vertroue. Die voertuie moet gesien word as ’n instrument om goeie verhoudinge te bou tussen plaaswerkers, landbouers en die polisie.

 

 

 

Posted on by jonckie

Comments Off on Vrystaat Landbou verwelkom ekstra voertuie om misdaad in Vrystaat te bekamp

Category: Veiligheid Tags :