Onverskilligeheid van motoriste by beheerpunte tydens padwerke wek kommer

Die gedrag van sommige voertuigbestuurders by verkeersbeheerpunte tussen George en Oudtshoorn is ‘n bron van kommer vir kontrakteurs.

Die Oudtshoorn Courant het gisteroggend ‘n navraag aan Henra-konstruksie gestuur nadat inwoners op Facebook gekla het van voorvalle waar voertuie glo uit beide rigtings binne die eenrigtinggedeeltes op mekaar afkom.

Uit reaksie van motoriste wat die pad gereeld gebruik, blyk dit egter dat sulke voorvalle by uitsondering voorkom en dat verkeer oor die algemeen goed vloei.

Volgens Robbie Zamudio, direkteur van Henra, skep die gedrag van sommige motoriste ‘n gevaar vir ander padgebruikers op gedeeltes van die pad wat in aanbou is.

Daar is, volgens hom, veral drie dinge wat kommerwek. In die eerste plek ry sommige motoriste hopeloos te vinnig binne die gedeelte waar daar eenrigtingverkeer is. Dit gebeur ook dat motirste stadige verkeer binne die eenrigtinggebied verbysteek of soms binne die eenrigting gebied stilhou.

“Dit is uiters gevaarlik, aangesien dit die stelsel om die laaste voertuig as ‘n merker te gebruik in die wiele ry.”

Hy verduidelik dat die volgorde waarin voertuie die konstruksiegedeelte binnegaan, dieselfde volgorde moet bly totdat hulle die gedeelte weer uitgaan.

Hy doen ‘n beroep op motoriste om stadig te ry, nie ander voertuie verby te steek nie en ook nie binne die konstruksiegedeelte stil te hou nie.

‘n Verdere versoek is ook dat mense voorvalle onmiddelik by Henra moet aanmeld sodat dit onmiddelik opgevolg kan word.

[Oudtshoorn Courant]

Posted on by jonckie

Comments Off on Onverskilligeheid van motoriste by beheerpunte tydens padwerke wek kommer