Mielieboere gemaan om op die uitkyk te wees vir diewe

Mieliediefstal het die laaste tyd in die Vrystaat toegeneem en landbouers word gewaarsku om veral tydens strooptyd ekstra voorsorg te tref sodat hulle nie slagoffers daarvan word nie. Só sê dr Jane Buys, Veiligheidsrisiko-analis van Vrystaat Landbou (VL). Hierdie voorsorg geld ook vir ander graangewasse wat geoes word.

Volgens haar moet landbouers seker maak gestroopte mielies word nie onnodig oornag gestoor of byvoorbeeld in vragmotors op landerye gelos nie, aangesien dit dikwels gesteel word.

Sy raai hulle ook aan om hul vragte te weeg en seker te maak die regte hoeveelheid word by die silo afgelaai. Dit is ook belangrik om vervoerkontrakteurs en hul vragmotorbestuurders se werk na te gaan om seker te maak landbouers word nie ingedoen nie.

“Die diefstal van groenmielies is reeds in verskeie dele van die provinsie aangemeld,” sê Buys. “Dit is aangemeld by dorpe soos Allanridge, Bethlehem, Bothaville, Bultfontein, ClocoIan, Hobhouse, Ficksburg, Odendaalsrus, Virginia, Fouriesburg en Warden.”

Volgens haar veroorsaak diefstalle van byvoorbeeld vragte mielies of ander gewasse dat landbouers duisende rande se skade ly. Verder gebruik hulle ook veiligheidswagte en ander maatreëls om hul landerye te bewaak, wat hulle ekstra geld uit die sak jaag.

Posted on by jonckie

Comments Off on Mielieboere gemaan om op die uitkyk te wees vir diewe