VKB en verskaffers span saam om rekordbedrag vir VL se veiligheid te skenk

dav

Die geld wat ingesamel is, is nie uit landbouers vir landbouers nie. Dit is uit die ondersteunende industrie ter wille van landbouers se veiligheid. So sê Koos Janse van Rensburg, Besturende Direkteur van die VKB-groep, oor die rekordbedrag wat op 11 April 2019 vir Vrystaat Landbou (VL) se veiligheid ingesamel het.

Volgens hom vat VKB, wat ook sy 100ste bestaansjaar vier, met sy Plaasveiligheid-gholfdag in Clarens “hande met sy verskaffers” om produsente te ondersteun.

“Dit is ’n groot voorreg om deel te wees hiervan,” sê Gerhard Kriel, Hoof Uitvoerende Beampte van VL. “Maar wat nog groter is, is om die harte van die mense te sien vir veiligheid en georganiseerde landbou. Ons wil altyd daarop voortbou.”

Janse van Rensburg en sy span hou die laaste ses jaar die gholfdag waar hy geld vir die VKB VL Veiligheidslessenaar insamel en het ’n allemintinge R755 000 aan VL oorhandig. Dié VKB-bydrae is dus R 145 000 meer as in 2018. Altesaam 39 spanne het aan die gholfdag deelgeneem en meegeding om pryse ter waarde van sowat R90 000.

 

Funksie van lessenaar

Volgens dr Jane Buys, Veiligheidsrisiko-analis van VL, het die VKB VL Veiligheidslessenaar ’n tweeledige doel. “Eerstens is dit om interne veiligheidstrukture op grondvlak te bemagtig en uit te brei om voorkomend misdaad en veiligheid aan te spreek,” sê sy. Die ander funksie is ekstern om skakeling met alle rolspelers, waarvan die Suid-Afrikaanse Polisiediens die hoofrolspeler is, binne die Landelike Beveiligingstrategie uit te brei.

Deur die lessenaar word daar onder meer gehelp om plaasaanvalle te voorkom, dit samel belangrike inligting in om misdaad te bekamp en opleidingsessies word aan VL se lede aangebied.

 

Afhanklik van landbouers

“Vrystaat Landbou is baie dankbaar dat ons hierdie goeie verhouding met VKB kan hê,” sê Kriel.

Volgens Janse van Rensburg is die gholfdag een wat VKB na aan die hart lê. “Ons voortbestaan is afhanklik van die produsente – ons landbouers in die gebiede wat ons bedien. En uit daardie oogpunt is hul veiligheid vir ons kardinaal belangrik. Sonder hulle het ons nie ’n industrie nie en sonder hulle het ons nie ’n besigheid nie.”

Hy het groot verskaffers, Total, Standard Bank, BCX en Nashua uitgesonder. Hulle het ’n reuse bydrae gemaak om ’n groot bedrag aan VL te oorhandig.

Oresti Christodoulou, Algemene Handelsbestuurder by Total Suid-Afrika, sê veiligheid is een van Total se belangrikste waardes. “Die veiligheid van landbouers is noodsaaklik om die volhoubaarheid van die bedryf te verseker. Daarom ondersteun ons alle inisiatiewe wat die veiligheid in hierdie land bevorder en ook die veiligheid van landbouers.”

Volgens Danie Retief, Streeks-lanboubestuurder in die Vrystaat en Noord-Kaap by Standard Bank, is voedselsekuriteit belangrik vir verbruikers en die Suid-Afrikaanse ekonomie. Daarom moet landbouers voedsel in ’n veilige omgewing kan produseer.

“Met dit in gedagte is dit vir Standard Bank van Suid-Afrika belangrik dat produsente in ’n veilige finansiële- en fisiese omgewing hulle bedryf beoefen en wil die bank ’n positiewe bydrae maak. Ons glo dat ’n land wat vir sy landbouers sorg, sorg vir sy toekoms.”

Posted on by Media

Comments Off on VKB en verskaffers span saam om rekordbedrag vir VL se veiligheid te skenk

Category: Gesprek Tags :