Só maak jy jou motor ‘n teiken vir grypdiewe

Grypdiewe blyk hulle messe uit te hê vir niksvermoedende motoriste, soos ‘n video wat onlangs die rondtes op sosiale media gedoen het aandui.

Die video toon hoe twee boewe ‘n motoris in Johannesburg – helder oordag en in druk verkeer – aanval en beroof. Dit volg kort op die hakke van ‘n soortgelyke geval in Februarie 2019 waar ‘n motoris in Sandton geteiken is.

“Die idee dat diewe toeslaan waar hulle konfrontasie kan vermy is lank reeds iets van die verlede”, sê Ricardo Coetzee, woordvoerder van Virseker. “Volgens die 2018 Victims of Crime Survey het nagenoeg 280 500 rowe in 2017/18 buite huislike omgewings plaasgevind. Dit noodsaak Suid-Afrikaners om voltyds paraat te wees en praktiese stappe te neem om hulle risiko om geteiken te word so ver moontlik te probeer verlaag.”

Volgens Coetzee kan jy jou risiko om geteiken te word heelwat verlaag deur die volgende wenke toe te pas:

  • Fokus. Skenk genoeg aandag aan jou omgewing. Moenie jou aandag laat aflei deur jou foon, verstelling van die radio, opknapping van grimering, omsien na kinders ens. nie. Wees veral op jou hoede en kyk baie rond in plekke waar verkeer stadig beweeg.
  • Sluit en maak toe.  Moenie met oop vensters en/of deure wat nie gesluit is ry nie. As die venster móét oop, hou dit op ‘n skrefie oop.
  • Pak weg. Vermy dit om waardevolle items op die sitplek langs of agter jou te los.
  • Laat ruimte. Moenie so naby aan die voertuig voor jou stop dat jy geen wegkomkans het wanneer jy gekonfronteer word nie.
  • ‘n Ekstra laag beskerming.Anti smash-and-grab” beskerming op jou voertuig se vensters en ruite is ‘n baie slim keuse.
  • Vertrou niemand. Moenie jouself ‘n rat voor die oë raai en dink dat mense wat “nie soos boewe lyk nie” jou geen skade sal aandoen nie.
  • Wees seker. Wanneer jy nie 100% seker is van jou roete nie sal jy heel moontlik moet stadiger ry of moet stop om jouself te heroriënteer. Dit maak van jou ‘n maklike teiken.
  • Vermy gevaarareas. Vermy gebiede wat as misdaad-heetkolle aangewys is en moenie te gerus wees dat nie-heetkolle heeltemal veilig is nie.
  • Tydsberekening. Skat jou aanloop na ‘n verkeerslig, of jou saamsmelting met ander verkeer só dat jy nie heeltemal tot stilstand hoef te kom nie.
  • Meld aan. In die belange van jou eie, sowel as ander motoriste se veiligheid, is dit slim om enige verdagte individue en aktiwiteite aan te meld.

“Seker die belangrikste ding om te onthou is dat jou lewe baie meer werd is as jou besittings, so as hierdie voorsorgmaatreëls nie die noodlot afweer nie, maak seker dat jy eerder saamwerk as om teë te stribbel, veral wanneer die rowers gewapen is”, sluit Coetzee af, “Sorg ook dat jou voertuig en al die waarde volle items daarin, sowel as dié wat jy aan jou dra, deeglik verseker is.”

 

Posted on by jonckie

Comments Off on Só maak jy jou motor ‘n teiken vir grypdiewe