Landbouers moet in SA geleenthede soek, sê VL Jongboer-wenner

“Jongboere moet ophou Google oor moontlike geleenthede wat daar in die buiteland is. Google eerder oor watter geleenthede daar in Suid-Afrika is.” Só sê Herman Janse van Rensburg, Vrystaat Landbou (VL) se Jongboer van die Jaar vir 2019.
Die raakvatter van Arlington glo daarin om positief te wees en meen landbouers moet plaaslik geleenthede soek. Janse van Rensburg is op 17 April 2019 in Bloemfontein as VL se 24ste Jongboer-wenner aangewys en sal die Vrystaat by die Toyota Agri SA nasionale Jongboer van die Jaar kompetisie verteenwoordig.
Janse van Rensburg (39) se boodskap aan jong landbouers is: “Dink positief en hê hoop. Hoop is baie belangrik. Want as jy nie hoop het nie, is daar nie lewe nie.”
Die ander finaliste in 2019 was Milne Bredenkamp, Henk Harmse (albei van Bultfontein) en Ludwig Becker (Warden). Janse van Rensburg het met ’n VL-kontantprys, asook ander pryse van verskeie borge, weggestap.
Mielies en sonneblomme maak die grootste deel van Janse van Rensburg, wat ook met vee boer, se boerdery uit. Hy bedryf ook ’n besigheid, Arlington Staalwerke, waar hy implimente bou.
Hy was oorweldig oor dié eerbewys. “Om eerlik te wees, voel ’n mens eintlik baie nietig en klein (om só iets te ontvang),” sê hy. “Dis ’n groot voorreg.”
Hy meen dis egter belangrik om nederig te bly: “Ek kan net die Vader daar bo bedank, asook my pa wat my die geleentheid gegee het om te kan boer en te kon voortgaan.”
Afdelings waarop die finaliste beoordeel is, het onder meer hul toekomsbeeld, begroting en finansies, produksie, bemarking, instandhouding, personeelbestuur en gemeenskapsbetrokkendheid ingesluit.
Volgens prof Pieter Fourie, sameroeper van die beoordelaars en Hoof van die Department van Landbou by die Sentrale Universiteit vir Tegnologie, was dit ’n baie moeilike proses om die wenner te bepaal. “Die kandidate was naby aan mekaar en ons was verbaas om sulke goeie kandidate in ’n moeilike jaar (vir landbou) te hê.”
Janse van Rensburg meen jongboere is belangrik, omdat daar voortdurend vernuwing moet plaasvind om onder meer voedselsekuriteit te verseker. Hy glo aanpasbaarheid in alle afdelings is ook nodig.
“Daar is ’n groot toekoms vir elke landbouer in Suid-Afrika,” sê hy. “Die groot ding gaan daaroor om positief te wees.”

Posted on by Media

Comments Off on Landbouers moet in SA geleenthede soek, sê VL Jongboer-wenner

Category: Gesprek Tags :