Huiseienaars gewaarsku oor slange tydens droogte


‘n Koraalkobra wat deur Mornay Thysse gevang is.

Mornay Thysse, bekende slangvanger en brandweerman, het sedert die begin van Januarie 12 slange in die Oudtshoorn-distrik gevang.

Volgens hom is die mees algemene slange die bruin huisslang, Kaapse kobra en boomslang.

“Die gebied is droog en daarom kom slange nader aan huise om kos en water te soek. Dit is van kardinale belang dat jou erf skoongemaak moet word. Moet nie bourommel of tuinvullis berg nie.

Dit is broeiplek vir knaagdiere en lok slange.”

Thysse sê mense wat nie kennis dra van slange nie moet onder geen omstadighede probeer ‘n slang self te vang nie.

“Bel die beheerkamer by 044 203 3147 of 044 203 7800 en hou die slang dop sodat jy weet waar die slang is as iemand die slang kom vang.”

Hy sê verder dat mense hul kinders en troeteldiere moet weghou van die slang af.

“Slange kom gewoontlik nie in pare voor nie, maar in paarseisoen is dit algemeen om twee slange kry. Moet nie karring aan die slange as hulle besig is om te paar nie. Veral die mannetjies is op hul kwaaiste in so ‘n geval.”


‘n Boomslang.

Hoe om te maak met ‘n slangbyt:

  • Indien moontlik, neem ‘n foto van die slang en probeer bes moontlik die slang beskryf sodat mediese personeel weet watter teengif om toe te dien.
  • Probeer kalm bly want spanning veroorsaak dat die bloedvloei vinniger is.
  • Ontbied onmiddellik mediese hulp – veral in die geval van ‘n Kaapse kobra omdat hul gif neurotoksies is en tot asemhalingsprobleme lei.

‘n Gespikkelde Kaapse kobra.

Oudtshoorn Courant

Posted on by jonckie

Comments Off on Huiseienaars gewaarsku oor slange tydens droogte

Category: Huis, Veiligheid Tags :