Trompsburg se landbouers oorweldig oor oop harte ná brande

“ ’n Mens voel die skade aan jou en jouboerdery en dit kan jy nog hanteer. Maar wanneer mense voer aanbring en jy weethulle het nie eers genoeg vir hulself nie, dan raak dit jou werklik en weet jynie eintlik wat om te sê nie.” Só het Andries Kotzé, Voorsitter van dieTrompsburg-landbouvereniging, gesê oor die hulp wat die laaste paar wekeingestroom het ná verwoestende veldbrande.

Kotzé en die landbougemeenskap is ongelooflik dankbaar vir die hulp, voer, skenkings en geld wat vanaf besighede, landbouverenigings en die algemene publiek ontvang is. Volgens hom het hulp vanaf mense ver buite hul distrik gekom. Die landbou- en Suid-Afrikaanse gemeenskap het hul harte oopgemaak nadat brande tussen 15 en 17 November 2018 groot skade in die Trompsburg-omgewing aangerig het.

Dit was aanvanklik moeilik om die omvang van die skade te bepaal. Volgens Johann Breytenbach, hoofbestuurder van die Vrystaatse sambreel-organisasie vir brandverenigings (FSUFPA), het ’n “rookkolom-gedrewe brand” 13 600 ha se weiding of veld afgebrand. Die geaffekteerde area was 40 000 ha. Breytenbach het gesê laasgenoemde verwys na die totale area waarbinne die brand plaasgevind het of waarop daar skade is.

Altesaam 82 plase het deurgeloop en 256 km se draad- of plaasheinings is verwoes. Breytenbach het gesê dit kos ongeveer R 11 000 per km om draad te vervang. Verder is 513 skape en 30 beeste weens die brande dood en party landbouers het al hul weiding verloor.

Kotzé het gesê hulp het onder meer van plekke soos Fauresmith, Jagersfontein, Edenburg, Colesberg, Reitz, Tweeling, Daniëlsrus, Wepener, Dewetsdorp, Bultfontein, Phillippolis, Bloemfontein en Hopetown gekom. Onder die skenkings was lusernbale en – pille, tef-,  gras-, sojareste- en hawerbale, hominy chop, mielies, aartappels, asook voerprodukte en molasse.

Gerhard Kriel, Hoof Uitvoerende Beampte van Vrystaat Landbou (VL), het ook almal bedank wat onbaatsugtig bygedra het. “Hierdie bydraes om landbou te ondersteun, is eintlik bydraes tot Suid-Afrika as ’n geheel. Want deur die Trompsburg-landbouers te ondersteun, ondersteun hulle mense wat kos op die tafel van die land sit.”

“Ons moet vroeg in volgende jaar reël om nog skenkings te gaan haal. Ons moet dan self die vervoer en brandstof betaal,” het Kotzé gesê. Geld wat ontvang word, word byvoorbeeld gebruik vir diesel vir die vervoer van voer. Volgens hom is toekomstige behoeftes spesifiek kos, soos lusern en mielies, vir skape.

Maak só ’n bydrae

Om Trompsburg-landbouers te help, kan geld geskenk word aan Vriende van Landbou, ’n ondersteuningsnetwerk vir landbouers in Suid-Afrika. Vriende van Landbou word gedryf deur VL. Besoek http://www.vlvriende.org/ vir meer inligting.

Bankbesonderhede:

Bank: ABSA

Rekeninghouer: Vriende van Vrystaat Landbou

Rekeningnommer: 4094219790

Takkode: 63-2005

Verwysing: Trompsburg Rampfonds

Om hulp of voer aan te bied, kontak Dr Jack Armour, Bedryfsbestuurder by VL, by jack@vslandbou.co.za of Elize Spence, Admin Beampte by VL, by elize@vslandbou.co.za. Of skakel 051 444 4609.

Of maak ’n bydrae in die Trompsburg-landbouvereniging se veiligheidsrekening.

Banksbesonderhede:

Bank: ABSA

Rekeninghouer: Trompsburg Boereunie-veiligheid

Rekeningnommer: 9202864386

Takkode: 63-2005

Verwysing:Brand

Posted on by jonckie

Comments Off on Trompsburg se landbouers oorweldig oor oop harte ná brande