Vrystaat Landbou sal saamwerk om eiendomsreg te beskerm

Vrystaat Landbou (VL) is uiters teleurgesteld, maar tog nie verras, oor die aanbeveling van die Grondwetlike Hersieningskomitee ná ’n maandelange proses van publieke deelname om Artikel 25 van die Grondwet te wysig. Hy sal met alle organisasies, wat dieselfde doel nastreef, saamwerk om te verhoed dat hierdie gebroke en polities gemanipuleerde proses sy pad loop.

Só het Francois Wilken, President van VL, gesê nadat dié komitee op 15 November 2018 aanbeveel het dat Artikel 25 van die Grondwet gewysig moet word om onteiening sonder vergoeding moontlik te maak.

“Hoewel dit nie as ’n referendum gesien word nie, is dit duidelik dat dit ’n polities gemanipuleerde proses is. Die redes is omdat die skriftelike voorleggings, wat feitelik gebasseer was, en die Motlanthe-verslag geignoreer word,” het Wilken gesê.

“Dit gee egter nou die geleentheid aan die burgerlike samelewing en belangegroepe om die geldigheid van die proses in die howe te toets.”

Volgens Gerhard Kriel, Hoof Uitvoerende Beampte van VL, sal sy organisasie, wat by Agri SA geaffilieerd is, tesame met die ander agt provinsiale organisasies en bedryfsorganisasies saamwerk om die wysiging teen te staan én die eiendomsreg van sy lede te beskerm. “Die organisasies saam met wie ons sal werk sluit ook in burgerregte groepe, politieke partye en beïnvloeders wat ook op die wêreldverhoog die nodige kan doen om die eiendomsreg van ons lede te beskerm,” het hy gesê.

Wilken meen die aanbeveling van die Grondwetlike Hersieningskomitee is nie ’n verrassing is nie, aangesien sekere partye, waaruit die komitee bestaan het, in die eerste plek die voorstel vir die wysiging gemaak het.

Kriel het die publieke deelname aan die proses bevraagteken. “Vrystaat Landbou en sy lede het aan die publieke proses deelgeneem en waargeneem hoe lede van die komitee toegelaat het dat dikwels opruiende en feitlik nie-korrekte stellings gemaak is. Hierdie sprekers het dan die indruk geskep dat meerderheid deelnemers aan die proses in die sessies verkies dat Artikel 25 verander word.”

Kriel het gesê VL en baie van sy lede het verder ook voorgeskrewe skriftelike vertoë ingedien met die vertroue dat die proses bo verdenking sal wees. “Vrystaat Landbou het met skok verneem die prosesse soos onderneem deur die hersieningskomitee blyk nie korrek en regverdig afgehandel te wees nie.”

“Vrystaat Landbou sal die toekomstige proses baie nou volg en beïnvloed tot voordeel van sy lede én hard optree waar nodig,” het Wilken gesê.

Indien die parlement die voorstel van die komitee aanvaar, sal ’n nuwe komitee aangestel word vir die volgende publieke deelname-proses om die wysiging op te stel. Volgens Kriel kan hierdie proses na aanduidings ook tot ’n jaar lank neem.

Posted on by jonckie

Comments Off on Vrystaat Landbou sal saamwerk om eiendomsreg te beskerm