Twee sterf in brand in Oudtshoorn

Twee persone is vanoggend in die vroeë oggendure dood na ‘n brand drie plakkershutte in Mullersstraat tot op die grond afgebrand het. Apools Simmers, ‘n man wat in een van die hutte saam met sy vrou en kinders gewoon het, sê hulle is gelukkig dat hulle die vlammehel oorleef het.

Volgens Simmers het hy sy vrou, Beronique, hul twee seuns, Browegan (5) en Lerenciau (10) saam met Jacques Jacobs en Filicity Solomons – die oorledenes – en Lauretta Moos in die drie hutte by ‘n famielid op die erf gewoon.

Moos het gisteraand in die huis geslaap, maar het al haar besittings in die brand verloor.

Simmers sê hulle het gisteraand gaan slaap en sy oudste seun het uitgeslaap.

“Die kleintjie het tussen my en my vrou geslaap. Dit lyk of die brand in Jacques-hulle se huis begin het. Iemand wat naby woon het ons wakker geskree en toe my vrou opkyk was dit net vlamme bo haar kop. Sy het my wakker gemaak en ek het die gegryp en toe is ons uit by die huis. Ons wou nog by Jacques in gaan maar daar was te veel vlamme.”

Volgens hom vermoed hulle dat ‘n kers moontlik in Jacques en Filicity se kamer omgeval het.

Die gesin het al hul besittings in die brand verloor.

Die kinders se skoolklere, -boeke en -tasse is weg. Hul meubels, klere, geld, skoene, huisraad en identiteitsdokumente; als is weg.

 

[Oudtshoorn Courant]

Posted on by jonckie

Comments Off on Twee sterf in brand in Oudtshoorn

Category: Huis Tags :