Polisiekonstabel rol voertuig tussen Oudtshoorn en George

‘n Polisiekonstabel wat ‘n kursus in Oudtshoorn bywoon se pretrit met ‘n amptelike voertuig het Dinsdagoggend net buite Oudtshoorn in ‘n botsing geëindig. Die botsing het omstreeks 00:40 op die George-pad net na die afdraai na Bakenskraal plaasgevind.

Volgens inwoners van ‘n nabygeleë huis het hulle ‘n harde slag gehoor en toe die motor op sy dak langs die pad aangetref. “Ons het dadelik die polisie gebel, want ‘n dokter wat ook op die pad was het gestop en die man gehelp,” het een van die inwoners gesê.

Die motor was in die rigting van George onderweg toe dit net verby die Bakenskraal afdraai links van die pad afgery het en ‘n grondwal getref het. Die slag het die motor laat omswaai waarna dit op die dak te lande gekom het.

Met die aankoms van die Oudtshoorn Courant op die toneel net na 01:00 was die bestuurder van die motor reeds per ambulans hospitaal toe geneem.

Volgens nooddienswerkers was die man reeds in die dokter se motor toe die ambulans op die toneel kom. “Die dokter het die man behandel en op sy motor se agtersitplek laat lê om hom hospitaal toe te neem toe die ambulans kom. Ons het hom toe oorgelaai,” het een van die nooddienswerkers wat nog op die toneel was, gesê.

Op die toneel moes ‘n insleepdiens magtiging van Plettenbergbaai se bevelvoerder bekom om die motorwrak te verwyder.

Volgens kapt. Louis Visser, woordvoerder van die Oudtshoorn-polisie, het die botsing om 00:40 plaasgevind en het die bestuurder slegs ligte beserings opgedoen. Hy het bevestig dat die bestuurder ‘n konstabel is wat tans in Oudtshoorn is om ‘n kursus by die SAPD opleidingsakademie by te woon. Die polisie het geen verdere amptelike inligting bekend gemaak nie, behalwe dat ‘n klag van roekelose en/of nalatige bestuur ondersoek word.

Intussen het die Oudtshoorn Courant inligting bekom wat daarop dui dat die konstabel, wie se naam nie genoem kan word nie, ‘n kursus moes bywoon wat die hele week duur. Dit blyk dat die kursusdag Maandag net na middagete verdaag is om lede geleentheid te gee om hulle akkommodasie te reël. Die konstabel het glo as ‘n passasier in die polisievoertuig, ‘n Ford Figo, vanaf Plettenbergbaai na die kursus gekom, en het nie magtiging gehad om die motor te bestuur nie. Hy het egter glo die motorsleutels Maandagmiddag geneem en met die motor gery.

‘n Verkeersbeampte wat op die botsingstoneel was, het gesê hulle was bewus van ‘n Ford wat Maandagaand in die dorp op en af gery het, maar hy kon nie bevestig dat dit dieselfde motor was nie. Die polisie is besig met ‘n interne ondersoek oor die omstandighede rondom die botsing.

[Oudtshoorn Courant]

Posted on by jonckie

Comments Off on Polisiekonstabel rol voertuig tussen Oudtshoorn en George