Vrystaat Landbou se Jongboer van die Jaar vir 2018 sien die groter prentjie

Nelius Ferreira saam met sy gesin. Van links is Cornel, Nelius, Jomarli en Jéan

Die spel se reëls is vir almal dieselfde. Dit hang net af hoe jy hom speel. Dié benadering is een wat Nelius Ferreira op sy plaas toepas en vorm deel van sy sukses-resep.

Die nuwe Vrystaat Landbou (VL) Jongboer van die Jaar meen boonop harde werk is belangrik. “Ons boerdery se sukses lê in: Wat jy insit sal jy uitkry.” Dit is juis na aanleiding hiervan wat hy homself as hardwerkend, doelgerig en ’n goeie beplanner beskryf. Hy glo ook hy is iemand “wat die groter prentjie in gedagte hou”.

Ferreira (37) is op 12 April 2018 by ’n glansgeleentheid in Bloemfontein as VL se 22ste Jongboer van die Jaar gekroon. Die ander finaliste in die kompetisie, in samewerking met Standard Bank, was Hendrik Theron, Reece Dedwith en Wessel Hattingh.

Ferreira, wat onder meer verantwoordelik is vir die stoet en kommersiële Bonsmara-kuddes, appels en voerkraal, van die plaas Grootdraai naby Harrismith boer reeds 15 jaar as deel van ’n familiebesigheid. Hy is iemand wat altyd positief bly en dit sien jy in sy uitkyk: “Ek het nog nie misluk nie. Ek het net al ’n 1 000 maniere gekry wat nie werk nie,” sê hy.

Jong landbouers is onmisbaar

Hy glo die jong landbouer is onmisbaar, “want elke mens het hom drie maal per dag nodig”. Volgens hom is landbouers ook die hoeksteen van enige ekonomie. “Sonder ’n sterk landbousektor is ’n land se volhoubare bestaan in gedrang.”

Ferreira het al op die Eeram-boerevereniging se bestuur gedien en is die voorsitter van die Rooivleis Produsente Organisasie in die Vrystaat.

Maak ’n verskil in toekoms

Hy het reeds ’n vername bydra tot hul besigheid gemaak. Onder sy leiding het die Bonsmara-stoetkudde met produksieveilings begin, is die naam van die besigheid (Ferrero Bonsmaras) gevestig en die kwaliteit verhoog. Verder het hy ook onder meer die voerkraal uitgebrei, aangeplante weidings gevestig en die produksie en vrugkwaliteit van die appelboord verbeter.

Sy toekomsvisie is om alles wat gedoen word tot op die beste vlak te neem deur volhoubare produksie van wêreldgehalte en gesonde voedsel. “In die proses moet die boerdery ’n verskil in die landbousektor, asook ’n bydrae tot die omgewing, maak.”

Ferreira se bydra op Grootdraai lyk as volg:

Vertakking  

% bydrae tot boerderyomset

 

Omvang (ha of GVE)

Stoet Bonsmara-kudde 8% gesamentlik kuddes 1290 GVE
Kommersiële Bonsmara-kudde   4777 GVE
Appels 3.5% 32 Ha
Voerkraal 12% 1350 staande
Natuurlike weiding   13368 ha
Aangeplante weiding   774 ha

 

 

 

Posted on by jonckie

Comments Off on Vrystaat Landbou se Jongboer van die Jaar vir 2018 sien die groter prentjie