Gemeenskap in Morgenzon, Mpumalanga vra hulp na swaar vragmotors paaie verniel!

Die Arrive Alive webtuiste het die volgende e-pos ontvang: “Ek rig hierdie skrywe aan u namens die gemeenskap van Morgenzon, Mpumalanga.

Die steenkool vragmotors ry deur ons dorp om steenkool na Majuba kragstasie te neem. Die gevolg is dat daar sommige dae letterlik oor die duisend vragte heen en weer deur ons dorp gaan. Die klein, eens pragtige dorpie, se infrastruktuur kan dit glad nie hanteer nie. Ons paaie en infrastruktuur word verwoes en niemand doen iets daaromtrent nie.

Aangeheg is ‘n paar fotos om vir u te wys wat hier aan die gang is. Die fotos is geneem op die kruising van die R39 en R35 paaie in Morgenzon, Mpumalanga.

Ons het al briewe gerig aan Lekwa munisipaliteit. Hul het so 4 maande terug na die pad kom kyk, maar verder niks gedoen nie. Die plaaslike koerante het al berigte geplaas en vir Lekwa en Eskom gemaan om ons te help met die probleem, maar nogsteeds niks nie.

Die vragmotors ry soos wat hul wil en parkeer net waar hul wil. Dit het tot gevolg dat sypaadjies, padskouers en stormwaterpype vernietig word. Ek het al self vir die hoof van Lekwa se verkeersafdeling gebel en hy het vir my gesê dat ek die plaaslike polisie moet nader omdat hul ook die reg het om boetes uit te reik. Ons het toe op ‘n vergadering met die polisie vir hul gevra of hul nie wil help met die probleem nie. Hul het onderneem om vir elke polisie beampte ‘n boeteboek te gee. Dit was omtrent 3 maande gelede en daar het nog niks gebeur nie. Daar is veronderstel om ‘n stopteken by die kruising nie, maar die vragmotors ry dit herhaaldelik om. Vir die afgelope jaar was daar nie ‘n stopteken nie.

 

Die toestand van die pad het ‘n groot impak op die ekonomie van die dorp en die besighede lei daaronder.

Ek sal baie bly wees as jul dalk vir ons kan help, want ons as gemeenskap is al raadop en ons hoop dat julle ons kan help om hierdie probleem onder die belanghebbende partye se aandag te bring. (Lekwa Munisipaliteit, Eskom, Sanral)

Die laaste fotos is ‘n kar wat oor die naweek in die gat vasgeval het en wat uitgesleep moes word.”

Posted on by jonckie

Comments Off on Gemeenskap in Morgenzon, Mpumalanga vra hulp na swaar vragmotors paaie verniel!