Passasier sterf in botsing teen rotswand langs pad tussen Oudtshoorn en George

‘n Passasier in ‘n afleweringsvoertuig is vanoggend omstreeks 05:00 dood in ‘n botsing op die George-pad sowat 12 km buite Oudtshoorn.

Die oorledene was deel van ‘n span van 10 mense wat na Ladismith onderweg was om pamflette te versprei.

Volgens die bestuurder van die voertuig het hy in ‘n skerp draai geskrik vir ‘n voël wat teen die voertuig vasgevlieg het.

Hy het links van die pad afgery en met die linkerkant van die voertuig teen die rotswand vasgery.

Die bestuurder is ongedeerd.

Agt passasiers met ligte beserings, is met twee ambulanse na die Oudtshoorn hospitaal geneem.

Die botsing het sowat ‘n kilometer vanaf die Perdeskoendraai in ‘n skerp draai plaasgevind.

Die voertuig behoort aan ‘n verspreidingsmaatskappy in George.

Daar was die afgelope paar jaar ten minste sewe botsings, waarin ten minste drie persone gesterf het, op dieselfde plek.

[Oudtshoorn Courant]

Posted on by jonckie

Comments Off on Passasier sterf in botsing teen rotswand langs pad tussen Oudtshoorn en George