Opruiming van diesel vind plaas na ongeluk in Meiringspoort

Die lang proses om te keer dat ongeveer 35 000 liter diesel stroomaf in Meiringspoort versprei, is volstoom aan die gang.

Die diesel het gister in die rivier beland toe ‘n tenkwa met ‘n vrag diesel van 45 000 liter in Meiringspoort omgeslaan het.

Die tenk het oopgeskeur en al die diesel het uitgeloop.

Volgens Eden-rampbestuur is ‘n gedeelte van die vrag deur die sand langs die pad absorbeer, maar omtrent driekwart van die vrag het in die rivier beland.

‘n Privaat opruimingsmaatskappy wat in hierdie tipe besoedeling spesialiseer, Spill Tech, is tans besig om die diesel uit die rivier te kry. Oudtshoorn Courant was vanoggend op die toneel.

‘n Strook van ongeveer 2km van die rivier word gebruik om die besoedelde water op verskeie plekke op te dam.

Vanoggend was die opruimingspan besig om by ‘n brug stroomaf van die ongelukstoneel walle te gooi ingeval dit reen en die rivier sterker begin vloei.

Tussen hierdie brug en die een waar die ongeluk plaasgevind het was die span vanoggend ook besig om ‘n keerwal te bou waarin die besoedelde water opgedam en uitgepomp kan word.

Volgens werkers op die toneel sal die opruiming van die rivier ‘n lang proses wees.

Gelukkig is die riveirvlak tans baie laag, maar hulle wil die grootste hoeveelheid besoedelde water uitpomp voordat dit reen en die rivier sterker vloei.

[Via Oudtshoorn Courant]

Posted on by jonckie

Comments Off on Opruiming van diesel vind plaas na ongeluk in Meiringspoort