Noue ontkoming in ongeluk naby Waboomskraal, Oudtshoorn

Vier volwassenes en ‘n kind was gelukkig om bykans ongedeerd weg te stap na ‘n botsing by Waboomskraal waarin vier voertuie beskadig is.

‘n Bekende sakeman van Oudtshoorn, Sias van Greunen, sy vrou, Lizette, en hulle kleindogter Annandie was Vrydagoggend omstreeks 09:30 na die George-lughawe onderweg toe ‘n aankomende bakkie ‘n voertuig verbysteek en reg van voor op hulle afpyl.

Dit blyk dat ‘n voertuig in die ryvlak gewag het om by die gewilde pizzaplek, Roadside Deli, in te draai toe ‘n Ford Ranger van agter af die wagtende voertuig verbysteek. Van Greunen het na regs uitgeswaai en daarin geslaag om ‘n botsing reg van voor te vermy, maar sy Mercedes het die agterwiel van die aankomende bakkie getref.

Die bakkie se agteras is deur die slag afgeruk waarna die bakkie tot teen ‘n geparkeerde voer-tuig gerol het.

Volgens nog ‘n Oudtshoorniet, John Sklenarz, wat die besigheid langs die deli besit, was hy besig om klante te help om vrugte in hulle motor te laai toe die botsing plaasgevind het.

“Ons was baie gelukkig, die bakkie het ons gemis en tot teen my eie bakkie gerol. Die as met wiele het die klante se motor en myself getref. Ek kon nie glo dat die mense in die Mercedes en die bakkie nie ernstig seergekry het nie,” het hy Woensdagoggend aan die Oudtshoorn Courant gesê.

Die Van Greunens en die twee insittendes van die bakkie is op die toneel behandel, maar nie ernstig beseer nie. ‘n Klag van roekelose en nalatige bestuur word ondersoek.

[Oudtshoorn Courant]

Posted on by jonckie

Comments Off on Noue ontkoming in ongeluk naby Waboomskraal, Oudtshoorn