Toyota Se Sportnutse bly gewild

Toyota Suid-Afrika se markbeste verkope van 9 601 eenhede in Mei het die maatskappy ’n markaandeel van 23% besorg ‒ die hoogste in vyf maande. Dié syfer plaas Toyota 3 215 eenhede voor sy naaste mededinger, met 90% van alle verkooptransaksies wat in handelaarskappe beklink is.

Toyota se sportnutse het weereens koning gekraai en 2 150 van dié eenhede is verlede maand van die hand gesit. Die Fortuner en RAV4 het vir die meeste Toyota-sportnutsverkope gesorg en was gevolglik die topverkopers in die afdelings vir groot en medium sportnutse – met verkope van onderskeidelik 1 249 en 520 eenhede vir dié twee modelle.
Calvyn Hamman, Toyota se senior vise-president vir verkope en bemarking, het dit as volg gestel: “Die kopersneiging ten gunste van ryhoogte, binneruimte, gemak en styl van sportnutse ten koste van tradisionele passasiersmotors blyk onstuitbaar te wees en is oorgehaal om danksy die onlangse bekendstelling van dinamiese nutsmotors soos die C-HR te versnel.

“Dit word deur die rotsvaste reputasie van Toyotas op die gebied van gehalte, betroubaarheid en herverkoopwaarde gesteun ‒ uiters noodsaaklike eienskappe in hierdie ekonomies uitdagende tye.”

Nog ’n noemenswaardige prestasie wat in die verkopeverslag vir Mei uitblink, is Toyota se 32,2%-markaandeel in die afdeling vir ligte handelsvoertuie, waar die Hilux die hoofspeler is en ’n stewige 2 758 eenhede nuwe tuistes gevind het.

Aan die weeldefront het Lexus 78 verkope aangeteken met die sportiewe NX-sportnuts wat die grootste hap (21 eenhede) verteenwoordig.

Hino het ’n markaandeel van 22% in die afdeling vir medium handelsvoertuie aangeteken ‒ ’n styging van 1,5% teenoor April 2017.

Posted on by Media

Comments Off on Toyota Se Sportnutse bly gewild

Category: Gesprek Tags :