4 Beseer in botsing na beweerde onwettige verbygaan op sperstreep

Vier werknemers van Eden-distriksmunisipaliteit is vanoggend omstreeks 05:45 beseer toe die bus waarin hulle onderweg was in ‘n botsing betrokke was met ‘n bakkie.

Die bestuurder van die bakkie het op ‘n sperstreep en in ‘n draai ‘n vragmotor verbygesteek en die aankomende bus reg van voor getref.

Vier passasiers in die bus is lig beseer en per ambulans hospitaal toe geneem. Die bestuurder van die bakkie is ongedeerd.

Volgens die bestuurder van die ligte bus het hy om die draai gekom en gesien die bakkie is aan sy kant van die pad besig om ‘n vragmotor verby te steek.

Die pad was vir ongeveer ‘n halfuur gesluit vir verkeer terwyl die bakkie verwyder is.

Die werkenemers van Eden was ‘n werkspan van 13 wat onderweg was na Murraysburg om padherstelwerk te doen.

[Oudtshoorn Courant]

Posted on by jonckie

Comments Off on 4 Beseer in botsing na beweerde onwettige verbygaan op sperstreep