Toyota Gazoo Racing SA eerste in derde ronde van die Afrika-Tydrenkampioenskap

 

  • Eerste in Klas R2 vir Botterill/Vacy-Lyle
  • Eerste in derde ronde van die Afrika-Tydrenkampioenskap (ARC)
  • Eerste 1 600cc-motor wat ’n ronde van die ARC wen

SABIE – Die verdedigende kampioene in Klas S1600 – wat nou as Klas R2, Suid-Afrika se voorste tydrenklas vir 2017, bekend staan – Guy Botterill en Simon Vacy-Lyle, het ’n oortuigende oorwinning in die York-tydren, die tweede ronde van die 2017-Suid-Afrikaanse Nasionale Tydrenkampioenskap, losgejaag. Botteril-hulle het hul Toyota Gazoo Racing SA Etios genadeloos gery en die R2-stryd van begin tot einde gelei.

Die York-tydren, wat voorheen as die Sasol-tydren bekend gestaan het, was ook die derde ronde in die FIA se Afrika-tydrenkampioenskap (ARC), en het dus deelnemers uit lande soos Kenia en Tanzanië ingesluit. Hierdie kragtige vierwielaangedrewe tydrenmotors het ’n duidelike voordeel teenoor die voorwielaangedrewe Suid-Afrikaanse Klas R2-tydrenmotors, maar Botterill/Vacy-Lyle het ten spyte van dié motors se krag- en klouvoordeel die eerste jaers geword wat ’n ronde van die ARC in ’n 1600cc-aangedrewe motor gewen het.
“Ons het werklik ’n puik byeenkoms gehad,” het Botterill aan die einde van Sneltrajek 14 – ’n toeskouervriendelike afdraande-lopie aan die buitewyke van Sabie, gesê. “Simon het die spoednotas regdeur die byeenkoms presies uitgeroep, die motor het soos klokslag geloop en ons het ’n perfekte en skoon tydren gehad.”

Vanjaar se York-tydren is deur Japie van Niekerk en Robin Houghton in ’n Klas S2000-Ford Fiesta oorheers. Hulle het in die Oop-klas gejaag, wat nie vir kampioenskapspunte in aanmerking kom nie. Botterill/Vacy-Lyle het dus volpunte in die tweede ronde van die 2017-kampioenskap aangeteken nadat hulle ook die eerste nasionalekampioenskapstydren gewen het.

Die byeenkoms het met die bekende Olifantsgeraamte-sneltrajek naby die York Timbers-meule noord van Sabie begin. Botterill/Vacy-Lyle het van meet af die pas in Klas R2 aangeteken, en net Van Niekerk/Houghton en die ARC-jaers Jaspreet Chatte en Surdeep Panesar (Mitshubishi) was vinniger. Die Toyota-jaers het hul Klas R2-voorsprong regdeur die tydren behou, en die byeenkoms uiteindelik met ’n voorsprong van net meer as vier minute gewen. Die naaswenners was AC Potgieter en Nico Swartz (Volkswagen), met Jono van Wyk en Scott Howden wat die derde plek in hul Ford Fiesta ingeneem het.

“Ons het nou ’n handige voorsprong in die kampioenskap, wat ons in ’n volmaakte posisie vir die res van die seisoen plaas,” het Botterill afgesluit.
Die volgende ronde is die Secunda Motor-tydren wat vir 19 en 20 Mei 2017 beplan is. Vanjaar se nasionale tydrenkampioenskap behels sewe rondes, en die seisoen sluit op 20 en 21 Oktober met die Goldfields-tydren in Welkom in die Vrystaat af.
Toyota Gazoo Racing SA gee erkenning aan sy borge en amptelike spesialis-verskaffers en tegniese vennote:
Toyota geniet ’n wedersydse voordelige vennootskap met Total, Toyota Finansiële Dienste en die Innovation-groep, sowel as Imperial Toyota, SKF, Spanjaard, Robor, OMP, NGK, Donaldson, Mastercraft, Edgecam, 3M, Bandit Signs, Shatterprufe, Supreme Springs, Smith’s Manufacturing, TRD, Peritus Forex en First National Battery.

Posted on by jonckie

Comments Off on Toyota Gazoo Racing SA eerste in derde ronde van die Afrika-Tydrenkampioenskap