SPUR fokus op strategie om veiligheid van kliënte en personeel in restaurante te verseker.

In die maand sedert die omstrede voorval in die Texamo Spur in die Glen-winkelsentrum in Johannesburg het ons almal by Spur tyd gehad om te besin oor ons optrede voor, gedurende en ná die gebeurtenis.

Spur wil van hierdie geleentheid gebruik maak om die publiek om verskoning te vra. Ons reaksie het tekortgeskiet en nie voldoen aan ons gewone hoë standaarde nie. Ons moes beter gevaar het. Ons verwag dit van onsself en ons glo Suid-Afrikaners verdien beter.

Dit was ‘n tyd van intensiewe selfondersoek vir almal by Spur en ons kan nou met nuwe insigte ‘n plan van aksie in werking stel om die tekortkomings in ons hantering van die saak te pak.
Ons het prof. Elmien du Plessis van die Regsfakulteit op die Potchefstroomkampus van die Noordwes-Universiteit genader om ‘n paneel van kenners saam te stel om ‘n indiepte-ondersoek te doen van al die relevante aspekte van die voorval op 19 Maart 2017 en hoe dit sedertdien hanteer is. Prof. Du Plessis het ‘n LLD-graad van die Universiteit Stellenbosch en sy is ‘n lid van die Menseregtekomitee van die NWU asook ‘n alumnus van die Suid-Afrikaanse Navorsingstoel in Eiendomsreg.

Die paneel sal heeltemal onafhanklik wees en onbeperkte toegang hê tot alle feite en opnames wat betrekking het op die voorval. Die span sal aanbevelings aan Spur maak oor stappe wat gedoen kan word om tekortkomings in ons reaksie reg te stel en ook ons hantering van soortgelyke insidente in die toekoms te rig.

Só ‘n ondersoek sal uit die aard van die saak nie oornag afgehandel kan word nie, en hoewel ons die dringendheid van die kwessie aan prof. Du Plessis gestel het, is dit belangrik dat sy en haar paneel tyd gegun word om die ondersoek behoorlik te doen. Bykomende besonderhede oor die paneellede en die tydlyn sal weldra bekend gemaak word.

Ongeag die bevindings en aanbevelings van die paneel, is almal by Spur dit eens dat sekere onmiddellike stappe genoodsaak is. Ons het reeds ‘n nasionale aksieplan van stapel gestuur om die verhouding tussen kinderoppassers en kinders in ons Play Canyons-speelplekke te vergroot, sodat daar meer volwasse toesig is. Ons het ook ‘n heropleidingsaksie begin wat ten doel het om die kundigheid en vaardighede van kinderoppassers te verskerp.

In die maand sedert die voorval het ons baie lesse geleer en tot nuwe insigte gekom. Ons is besig om planne in werking te stel om die veiligheid van kliënte en personeel in ons restaurante te verseker. Gegee die sosio-politieke klimaat in ons land, kan geen onderneming ‘n soortgelyke insident voorkom nie, en ons sien hierdie as ‘n geleentheid om beter te verstaan hoe om sulke uitdagings die hoof te bied. Ná die voorval het Spur vinnig opgetree om sleutelpersoneel met die nodige konflikhanteringsvaardighede toe te rus.

Posted on by jonckie

Comments Off on SPUR fokus op strategie om veiligheid van kliënte en personeel in restaurante te verseker.