Prins Albert Munisipaliteit verwelkom nuwe brandweervoertuig

Prins Albert se lang verwagte, volledig toegeruste en moderne brandweervoertuig is pas afgelewer.

Dis een van tien voertuie wat die Wes-Kaapse regering aan landelike munisipaliteite geskenk het om hulle weerbaar te maak teen brande en ander rampe. Dié provinsie is nou die enigste waar elke munisipaliteit ‘n brandweervoertuig het om sulke dienste te kan lewer.

Die tien munisipaliteite is Cederberg, Matzikama, Bergrivier, Witzenberg, Kannaland, Overberg, Hessequa, Laingsburg, Prins Albert en Beaufort-Wes. Twee voertuie is vroeër oorhandig, en die ander agt Dinsdag by die Goodwood-brandweersentrum.

Prins Albert se burgemeester, Goliat Lottering, en munisipale bestuurder, Heinrich Mettler, asook die dorp se brandweerhoof, Henry Lekay, het die voertuig hier gaan haal.

Die minister van plaaslike bestuur, omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning, Anton Bredell, het gesê die projek is ‘n aansienlike versterking van die brandweervermoëns in dié munisipaliteite.

Oudtshoorn Courant

Posted on by jonckie

Comments Off on Prins Albert Munisipaliteit verwelkom nuwe brandweervoertuig