Toyota, Lexus en Hino Suid-Afrika vier beste handelaarskappe

  • Bidvest McCarthy Toyota Centurion aangewys as 2016-Toyota-Handelaar van die Jaar
  • Bidvest McCarthy Hino Midrand wen prys as Hino se Handelaar van die Jaar
  • Lexus Nelspruit gekroon as Lexus se Handelaar van die Jaar

Bidvest McCarthy Toyota Centurion is vir sy uitstaande diens beloon en by ’n uithanggeselligheid by die Internasionale Konferensiesentrum in Kaapstad as die 2016-Toyota-Handelaar van die Jaar aangewys.  Riaan Grobler, die handelaarshoof, het dié gesogte toekenning as ’n eerste vir hierdie handelaarskap ontvang.

Bidvest McCarthy Toyota Centurion is vir sy ongeëwenaarde aandag aan die verskillende handelaarsontwikkelingsprogramme en sy deursettingsvermoë ten opsigte van hierdie hoogs mededingende toekenning geloof.

“Riaan Grobler en sy span by Bidvest McCarthy Toyota Centurion verdien die 2016-titel dubbel en dwars,” het Andrew Kirby, die president en uitvoerende hoof van Toyota Suid-Afrika Motors, gesê.

“Hul toewyding tot uitmuntendheid is bewys dat transformasie en ’n nuwe denkrigting die pad na sukses is. Toyota se waardes is deeglik in die handelaarskap se alledaagse bedrywighede toegepas om klanteverwagtinge voortdurend te oortref, wat tot ’n handelaarskaap gelei het wat as baken van uitmuntendheid in die Toyota-netwerk uitstaan,” het Kirby bygevoeg.

Die Toyota-handelaarstoekennings is ’n jaarlikse instelling wat aangebied word om die handelaarsnetwerk se vertoning die voorafgaande jaar te vier. Die puntestelsel wat gebruik word om die wenners aan te wys, die Toyota-Piramide van Uitmuntendheid, is op omvattende vereistes gegrond wat veranderlikes soos klantediens, volhoubaarheidsbestuur, voertuigbemarking en -verkope, Automark-verkope en finansieringsukses insluit.

Presidentstoekenning

Toyota het ook sy uitstaande handelaars in die klein-, groot-, medium- en mega-afdelings aangewys.

Bidvest McCarthy Toyota Centurion, onder die leierskap van die handelaarshoof, Riaan Grobler, is verder met die Presidentstoekenning vir die beste handelaarskap in die afdeling vir groot handelaarskappe beloon. Die afdelingstitels vir die beste klein-, medium- en mega-handelaarskappe is onderskeidelik gewen deur Calvin Parry van Algoa Toyota Uitenhage, Sean Bacon van Imperial Toyota Strijdompark en Theo Brits van Barloworld Toyota Centurion

Die aand se presidentstoekennings het ook die suksesvolste afdelingsgroep-besturende direkteur en groep-besturende direkteur van handelaarsgroepe in die Toyota-netwerk ingesluit. Alex Frielingsdorf van Barloworld het die titel as groep-besturende direkteur van die jaar losgeslaan, terwyl Alfie Rieckhoff van die Thekwini-groep as 2016 se afdelingsgroep-besturende direkteur van die jaar aangewys is.

Die laaste presidentstoekenning vir die aand was vir die Toyota-handelaarskap met die beste saamgestelde klante-ervaringstelling vir 2016. Thekwini Toyota Westville het dié toekenning gewen en is geprys vir hul buitengewone bekwaamheid sowel as hul professionele, gemoedelike gedrag. ’n Opgewonde Michael Koberstein het die toekenning namens die handelaarskap in ontvangs geneem.

Kirby het verder die aand se gesogte voorsitterstoekenning, wat deur die uitvoerende hoof gekies word, aangewys. Fanie Erasmus van Lydenburg Toyota het dié toekenning vir 2016 losgeslaan. Erasmus hou die rekord vir vyf handelaar-van-die-jaar-toekennings, en is weereens vir sy bydrae en passie sedert hy in 1986 die handelaarshoof geword het, erken.

Ander noemenswaardige toekennings

Toyota het onder die vaandel van die presidentstoekennings ook uitstaande vertonings op die gebied van diens deur sy handelaarsnetwerk erken. Monitor-dienshandelars vervul ’n spesialisoplossingsrol in die handelaarsnetwerk deur moeilike uitdagings of probleme wat nie ’n bestaande oplossing het nie, aan te spreek. Anthony Barraball het dié toekenning vir 2016 namens Mortimer Toyota Newcastle ontvang.

Nog ’n noemenswaardige toekenning, wat deur Elsa Mollentze van Hillcrest Toyota ontvang is, was die visepresidensiële omgewingsprys. Dié titel gaan aan die handelaarskap wat vernuwende omgewingsinisiatiewe die beste in die handelaarskap sowel as in die gemeenskap in pas met Toyota se algehele volhoubaarheidsdoelwitte toegepas het.

Die uitvoerende hoof van Toyota Finansiële Dienste (TFS), Marius Burger, het die beste Toyota-handelaarskap vir hul vertoning op die gebied van finansiering en versekering beloon, en hierdie keer het Brian Jones van Halfway Toyota Shelly Beach die titel beklink.

Lexus-toekennings

Die vooraanstaande titel as Lexus-Handelaar van die Jaar is deur Brian Shrosbree van Lexus Nelspruit vir hul skitterende vertoning op alle raakpunte van die onderneming gewen. Die titel as Lexus se top-finansieringshandelaar van die jaar is deur Lexus Fourways losgeslaan en deur Leon Brand in ontvangs geneem. Die presidentstoekenning vir die mees vooraanstaande Lexus-klante-ervaring in 2016 is aan Lexus The Glen toegeken.

Hino-toekennings

Die gesogte Hino-Handelaarskap van die Jaar-prys in die afdeling vir handelaarsvoertuie is die tweede agtereenvolgende jaar deur Hennie de Villiers van Bidvest McCarthy Hino Midrand losgeslaan. Bidvest McCarthy Hino Midrand het 103% van hul verkoopsteiken aangeteken ten spyte van die feit dat 2016 ’n uitdagende jaar vir die vragmotorbedryf was. Die prys vir die beste Hino-klante-ervaring vir die jaar is aan Gansen Chetty van Hino Shelly Beach oorhandig.

Kirby het die hele handelaarsnetwerk en al die aand se pryswenners vir hul bydrae tot die maatskappy se 37 jaar van algehele markleierskap geloof.

Posted on by Media

Comments Off on Toyota, Lexus en Hino Suid-Afrika vier beste handelaarskappe