Verdagte vasgetrek na hy sy selfoon verloor op misdaadtoneel

Die huisrower wat vanoggend deur die Oudtshoorn-polisie vasgetrek is, het ‘n selfoon geroof maar sy eie selfoon op die misdaadtoneel vergeet toe hy op die vlug geslaan het.

Die man het omstreeks 02:30 vanoggend (17 Februarie) by Montana-gasteplaas in Schoemanshoek, Oudtshoorn deur ‘n oop venster tot ‘n gaste-eenheid toegang verkry. Twee toeriste van Graz, Oostenryk, was in die eenheid ten tye van die voorval.

Een van die gaste, ‘n 59-jarige man, het wakker geword en ‘n stoeiery tussen hom en die booswig het uitgebreek.

Die gas het ‘n wond sy voorkop opgedoen tydens die stoeiery. Hy is op die toneel behandel.

Die rower se vryheid was van korte duur. Die polisie het hom enkele ure na die huisroof in hegtenis geneem.

Mede-eienaar van Montana-gasteplaas, Dagmar Beitz het op die toneel aan die Oudtshoorn Courant gesê sy kan net met lof van die polisie praat.

“Hulle was binne enkele minute op die toneel en het profesioneel te werk gegaan.”

Kapt. Louis Visser, woordvoerder van die Oudtshoorn-polisie het gesê die verdagte sal na alle verwagting vanoggend nog ‘n bekentenis oor die huisroof aflê.

[Oudtshoorn Courant]

Posted on by jonckie

Comments Off on Verdagte vasgetrek na hy sy selfoon verloor op misdaadtoneel