Beeste sterf en talle beseer toe vragmotor omslaan in Oudtshoorn

‘n Vragmotor wat beeste vervoer het vanoggend by die kanaal omgeslaan. Sowat 37 beeste is beseer.

Dis onbekend hoeveel beeste dood is.

Pogings word nou aangewend om die beeste wat nog in die vragmotor vassit los te kry. Die vragmotor is ‘n dubbelvlaktrok. Daar is nog beeste in die onderste vlak vasgekeer. 4 Beeste is sover van kant gemaak.

Volgens inligting was daar ongeveer 35 koeie en 35 kalwers op die trok. Die trok was vanaf Rooiheuwel onderweg na die Noordwes-provinsie.

Die oorsaak van die ongeluk is nog nie bekend nie.

Meer inligting volg soos dit beskikbaar is.

[Oudtshoorn Courant]

Meer Inligting:

Die vragmotor wat vanoggend naby die stasie by die berugte kanaaldraai omgeslaan het is sowat twee ure na die ongeluk deur twee weermagvoertuie op sy wiele getrek.

‘n Aantal koeie en sowat 30 kalwers wat op die onderste verdiepeing van die dubbelvlaktrok vasgekeer was is bevry.

Twee kalwers en ‘n koei is in die botsing dood en ongeveer 13 is op die toneel uitgesit.

Die pad na die stasie en die plaasgebied van Rooiheuwel was teen 13:00 steeds vir verkeer gesluit.

Die ongeveer 75 beeste op die trok was deel van ‘n besending van 150 beeste wat met twee trokke vanaf Oudtshoorn na Christiana onderweg was nadat hulle by ‘n boer naby Rooiheuwel gekoop is.

 

Posted on by jonckie

Comments Off on Beeste sterf en talle beseer toe vragmotor omslaan in Oudtshoorn