Rusdag bied blaaskans op halfpadmerk in Dakar 2017

LA PAZ, BOLIVIË – Die naweek het ’n welkome ruskans ná die eerste helfte van die 2017-Dakar gebied en die deelnemers kon effens op dié sogenaamde “rusdag” van die ren oor twaalf sneltrajekte ontspan. Hoewel die rusdag die renjaers en hul navigators ’n blaaskans gee, is dit een van die besigste dae vir die tegniese spanne. Die rusdag is ook ’n goeie geleentheid om die verloop van die ren tot dusver in oënskou teneem.

Die 2017-Dakar kon nie juis veel beter vir die Toyota Gazoo Racing SA-renspan begin het nie. Die ster-jaer Nasser Al-Attiyah, wat die Dakar-ren al twee keer gewen het, het ’n blitsige pas aangegee en die kort openingsneltrajek van die byeenkoms gewen. Hy en sy navigator, Mathieu Baumel, wat in Toyota Hilux #301 jaag, het die vroeë voorsprong ingeneem terwyl hul spanmaats, Giniel de Villiers en sy navigator, Dirk von Zitzewitz (#302) die vyfde beste tyd vir die eerste dag opgestel het, wat hulle ’n goeie posisie op die pad vir die volgende sneltrajek gegee het.

Sneltrajek 2, van Resistencia tot San Miguel de Tucuman, was nog ’n goeie een vir Al-Attiyah/Baumel, wat net-net ’n tweede sneltrajek-oorwinning misgeloop het nadat ’n navigasiefout hulle effens tyd gekos het.
Hulle het egter steeds die tweede vinnigste tyd vir die dag opgestel, maar die algehele voorsprong aan Sebastien Loeb (Peugeot) afgestaan. De Villiers/Von Zitzewitz was die vierde vinnigste vir die dag, en het tot vierde algeheel opgeskuif nadat die stof gaan lê het.

Toe kom Sneltrajek 3 tussen San Miguel de Tucuman en Jujuy in die noorde van Argentinië, wat ’n keerpunt vir die Toyota Gazoo Racing SA-renspan was. Die sneltrajek het goed begin ‒ veral vir Al-Attiyah/Baumel. Dié jaer van Katar het van meet af die krane oopgedraai, en het nie net die voorjaer teen die middel van die sneltrajek ingehaal nie, maar ook die algehele voorste posisie in die ren teruggewen. Dit het gelyk asof die sneltrajek-oorwinning in die sakkie was en dat Toyota Gazoo Racing SA teen die einde van Sneltrajek 3 weer los voor in die 2017-Dakar-ren sou wees.

Die Dakar is egter ’n wrede minnares wat deelnemers met die glans van glorie en avontuur mislei, net om haar rug op hulle te draai wanneer dit die minste verwag word. Al-Attiyah/Baumel het ’n gat aan die kant van die pad naby aan die eindpunt van die sneltrajek getref, wat hul Toyota Hilux se een agterwiel afgeruk en die veerstelsel onherstelbaar beskadig het. Dit was die einde van hul ren, en het wat ’n soete sneltrajekoorwinning sou wees, in bittere teleurstelling vir die hele span omgeskep.

De Villiers/Von Zitzewitz het vroeg in Sneltrajek 3 tyd weens navigasieprobleme verloor, maar hul posisie vir die res van die sneltrajek behou. ’n Brandstofdruk-probleem het hul aanslag onderbreek en hulle het 36 minute verloor toe hulle moes stilhou om noodherstelwerk te doen. Dit het hulle hul algehele renposisie gekos, maar hulle het oorleef om weer te probeer.

Sneltrajek 4 was volgende, en die deelnemers het uit die Argentynse dorp San Salvador de Jujuy op pad na Tupiza in Bolivië vertrek – ’n algehele afstand van 521 km. Daarvan was 416 km die sneltrajek self, wat op ’n hoogte van 4 300 m bo seevlak begin en later teen sowat 3 400 m geëindig het.

En wat ’n sneltrajek was dit nie!

Vir die Toyota-deelnemers het Sneltrajek 4 ’n geleentheid gebied om sake ná die dubbele terugslag van Sneltrajek 3 te kalmeer. Die Toyota Gazoo Racing SA-jaers De Villiers/Von Zitzewitz het ’n moeilike wegspring in Sneltrajek 4 gehad nadat hulle in wat hulle “van die sagste duine wat ons al teëgekom het” genoem het, vasgeval het.

Hulle het ná die duine naby aan die wegspring goed gevorder totdat twee agtereenvolgende pap wiele hulle teruggehou het. Navigasie was ook ’n uitdaging, maar hulle was uiteindelik sesde in die sneltrajek, wat hulle tot sewende algeheel opgeskuif het.
Nani Roma en Alex Haro Bravo (#305), wat in nog ’n SA geboude Toyota Hilux in die kleure van Overdrive Racing jaag, was die vinnigste Toyota-span in Sneltrajek 4. Hulle het die derde vinnigste tyd in dié sneltrajek, wat deur die Peugeot-jaer Cyril Despres gewen is, aangeteken. Sneltrajek 4 het vir Roma/Bravo vir ’n soortgelyke ervaring as dié van De Villiers/Von Zitzewitz gesorg, maar hulle het daarin geslaag om hul tydverlies teenoor Despres tot net 12:51 te beperk. Hulle was vyfde algeheel, en was daarop uit om verder op te skuif.

Sneltrajek 5 was die eerste volwaardige skof in Bolivië, en het die deelnemers op ’n sneltrajek van 447 km van Tupiza na Oruro geneem – of, dit was die plan. Die Dakar-gode het egter anders daaroor gevoel en erge weer gestuur om die uitdaging te bemoeilik. Die gevolg was dat die sneltrajek tot net die helfte van die beplande renafstand verkort is, wat die deelnemers van waardevolle renafstand beroof het.

Nani Roma en sy navigator, Alex Bravo, het nogtans die vlag vir Toyota gewapper deur tweede te eindig – net 44 sekondes agter die sneltrajekwenner, Sebastien Loeb (Peugeot).

“Ons het ’n baie goeie lopie gehad,” het die Spanjaard by die oorstroomde tentkamp in die dorpie Oruro gesê.
“Die Toyota Hilux het die toestande perfek hanteer, en as dit nie vir ’n navigasiefout naby die einde van die sneltrajek was nie, kon ons dalk bo uitgekom het.”

Roma/Bravo (#305) het op een tydstip tot 28 sekondes agter Loeb gevorder voordat hulle verkeerd afgedraai en effens teruggesak het. Roma se navagasiemoeilikheid was egter niks teenoor die probleme wat sommige ander jaers in Sneltrajek 5 gehad het nie.

Miko Hirvonen (MINI) het 42 minute verloor terwyl De Villiers en Von Zitzewitz 29:51 aan Loeb as sneltrajekwenner afgestaan het.

“Vandag se navigasie was baie moeilik, en ons het baie tyd verloor,” het De Villiers ná die sneltrajek gesê. “En om dinge nog moeiliker te maak, het die weer verwoesting gesaai en die sneltrajek is noodgedwonge aansienlik verkort.”

De Villiers/Von Zitzewitz was in die agtste plek algeheel, en 01:08:11 agter die algehele voorloper, Stephané Peterhansel (Peugeot). Roma/Bravo het hul vierde plek algeheel behou en was 05:35 agter die voorloper.

Die oornagtentkamp by Oruro sal een wees wat in die geskiedenisboeke aangeteken word.
Die aanhoudende reën het die sanderige omgewing in ’n japtrap oorstroom en die hele kamp in ’n modderpoel omgeskep wat op ’n tydstip vir die deelnemers gesluit is nadat talle voertuie vasgeval het. Dít, tesame met die voortdurende reën in die gebied, het die organiseerders gedwing om Sneltrajek 6 te kanselleer, wat die deelnemers ’n bykomende rusdag gegee het omdat hulle die ooppadgedeelte tot in La Paz, die hoofstand van Bolivië, kon gebruik.

Die rusdag was egter niks anders as ’n geleentheid vir die tegnici om die Toyota Hilux-renmotors kaal te stroop en hulle vir die volgende ses sneltrajekte voor te berei nie. Nog net die helfte van die ren is agter die rug, en daar is nog ’n massiewe afstand om af te lê voordat die 2017-Dakar Saterdag 14 Januarie in Buenos Aires eindig.

“Dit word ’n rusdag genoem, maar net omdat die deelnemers die kans kry om ’n bietjie die skoene uit te skop,” het die Toyota Gazoo Racing SA-spanhoof, Glyn Hall, by die modderige tentkamp in La Paz verduidelik. “Vir die res van die span is dit egter ’n waansinnige besige dag. Die toestande hier in La Paz maak dit ook nie enigsins makliker nie…”

Sodra die motors ten volle vir die oorblywende aanslag op die 2017-Dakar-ren voorberei is, sal dit tyd wees om op Sneltrajek 7 te fokus. Die roete is aan die einde van die rusdag tot ’n rengedeelte van net 161 km verkort.
Wat dit betref – Sneltrajek 7 is die marathon-sneltrajek van die byeenkoms, wat beteken die Toyota Hilux-renvoertuie mag nie by die oornagtentkamp deur die tegnici versien of herstel word nie.

“Dit is ’n kritieke deel van die ren,” het Hall voorts gesê. “Ons word nie eens by die oornaghalte in Uyuni toegelaat nie, en die jaers en navigators moet basiese instandhouding self doen. Dit is ’n angswekkende tydjie aangesien ons magteloos is om te help as iets verkeerd loop. Ons het egter die dienste van Rob Howie as navigator vir Conrad Rautenbach, wat hom saam met die ander deelnemers in die tentkamp plaas. Rob is die hoofbouer van ons renvoertuie, en ken hulle intiem. Sy teenwoordigheid in Uyuni kan dus van onskatbare waarde wees.”

Sneltrajek 7 word oor 622 km beslis, wat die verkorte rengedeelte van 161 km insluit. Dit bly hoog bo seevlak totdat die ren later in die week na Argentinië terugkeer.

Posted on by jonckie

Comments Off on Rusdag bied blaaskans op halfpadmerk in Dakar 2017

Category: Veiligheid, Voertuig Tags :