Polisie onseker wie bestuurder is wat in brug oor kanaal vasry in Oudtshoorn

Die motor wat in die betonmuur vasgery het. Foto's: Liezl van Niekerk.

Die motor wat in die betonmuur vasgery het. Foto’s: Liezl van Niekerk.

Vyf insittendes, waaronder twee kinders, is Saterdagmiddag beseer toe ‘n rooi Volkswagen Golf met ‘n betonmuur by die kanaal gebots het.

Die bestuurder van die voertuig het uit die rigting van die Rooiheuwelpad gery, vermoedelik beheer op die draai verloor en met die muur gebots.

Met die aankoms van die Oudtshoorn Courant op die toneel was paramedici reeds besig om die beseerdes, waaronder die twee kinders, te behandel.

Een van die vroulike insittendes wou egter nie haar kind vir toetse hospitaal toe stuur nie. Die kind het ooglopende beserings aan sy gesig gehad. Nooddienspersoneel het haar egter ‘n rukkie later tog oortuig om die seun na die hospitaal te neem.

Daar het ook gerugte die ronde gedoen dat die bestuurder van die voertuig die ongelukstoneel verlaat het, maar sers. Gretchen Micheals, woordvoerder van die Oudtshoorn-polisie, het in ‘n verklaring gesê dat die polisie nie “op die stadium weet wie die bestuurder van die voertuig was nie”.

[Oudtshoorn Courant]

Posted on by jonckie

Comments Off on Polisie onseker wie bestuurder is wat in brug oor kanaal vasry in Oudtshoorn