Groot opwinding toe Toyota Gazoo Racing SA openingsneltrajek van Dakar 2017 wen

RESISTENCIA, ARGENTINIË – Die 2017-Dakar-ren het op volmaakte wyse vir die Toyota Gazoo Racing SA-renspan begin toe Nasser Al-Attiyah en sy navigator, Mathieu Baumel (#301), die openingsneltrajek met Al-Attiyah se 26e sneltrajekoorwinning in die Dakar-ren gewen het. Giniel de Villiers en sy navigator, Dirk von Zitzewitz (#302), het die vyfde vinnigste tyd van die dag opgestel, terwyl Nani Roma en sy navigator, Haro Bravo Alex (#305), derde vinnigste in Span Overdrive-Toyota Hilux was.

Die opgewondheid oor die Toyota-jaers se skouspelagtige vertoning is egter effe gedemp deur die nuus dat Al-Attiyah/Baumel se motor ’n kleinerige enjinbrand aan die einde van die sneltrajek oor 39 km oos van Asunción, die hoofstad van Paraguay, opgedoen het. Hulle het die vlamme gou geblus en vasgestel dit is deur ’n kleinerige olielek in die enjinruin veroorsaak.

Hulle het as voorsorgsmaatreël besluit om nie weer die enjin aan te skakel nie en die voertuig tot by die oornagtentkamp by Resistencia in Argentinië laat insleep. Die probleem was gelukkig nie ernstig nie en hulle sal as voorjaers in die 2017-Dakar-ren voortjaag.
“Die brand het ons uit die aard van die saak groot laat skrik, maar al wat uiteindelik tel, is dat ons die sneltrajek gewen het,” het Al-Attiyah by die tentkamp in Resistencia gesê. “Ons was baie in ons skik om Toyota sy eerste sneltrajekoorwinning vir 2017 te gee en hoop daar sal vanjaar nog sneltrajekoorwinnings wees.”

Die openingsneltrajek was ’n geleentheid vir De Villiers/Von Zitzewitz om vir die immer belangrike renposisie op die pad vir die volgende sneltrajekte te baklei.

“Ek is baie tevrede met ons vertoning,” het De Villiers aan die einde van die lang ooppadgedeelte van die einde van Sneltrajek 1 tot by die eerste oornagtentkamp gesê. “Die Toyota Hilux het perfek geloop en hoewel dit ’n kort sneltrajek was, was dit fantasties om aan die gang te kom. Ons vyfde plek plaas ons in die ideale posisie op die pad vir Dinsdag se sneltrajek.”

Sneltrajek 2 neem die Dakar-brigade van Resistencia na San Miguel de Tucumán oor ’n algehele afstand van 803 km. ’n Volle 275 km daarvan is die sneltrajek-gedeelte wat op ’n hoogte van nagenoeg 250 meter beslis word. Die sneltrajek begin Dinsdag 3 Januarie om 12:05 plaaslike tyd, en die eerste motor word om 16:20 by die tentkamp verwag.

“More is dit die eerste behoorlike sneltrajek van die 2017-Dakar-ren,” het Glyn Hall, die Gazoo Racing SA-spanhoof, verduidelik.
“Dit is ’n lang en kronkelende roete met baie stof, wat beteken posisie op die pad is baie belangrik. Ons het gelukkig daarin geslaag om Nasser se motor reg te ruk, en Giniel is in die ideale posisie op die pad. In die geheel is ons op die oomblik in ’n baie goeie posisie.”

Posted on by jonckie

Comments Off on Groot opwinding toe Toyota Gazoo Racing SA openingsneltrajek van Dakar 2017 wen