Drywer en sy makker betrap terwyl hulle vragmotor steel

Twee verdagtes is vanoggend in Mamelodi, noord-oos van Pretoria, op heterdaad betrap waar hulle ‘n vragmotor met ‘n vrag vol verwerkte vleis gesteel het. Die verdagtes was besig om ‘n Ctrack-voertuigopsporingseenheid uit die vragmotor te verwyder toe Ctrack se reaksiespan hulle aangekeer het.

Ctrack het omstreeks 08:15 ‘n alarm ontvang dat daar aan die vragmotor se eenheid gepeuter word. Toe hulle nie die eienaar in die hande kon kry nie, het hulle dadelik ‘n reaksiespan na die GPS-koördinate ontbied. Minute later het hulle op die toneel aangekom en die verdagtes binne-in die vragmotor betrap waar hulle besig was om die eenheid uit te haal. Hulle het die twee in hegtenis geneem en aan die polisie oorhandig.

Die eienaar van die vragmotor het later bevestig dat die een verdagte een van sy werknemers is.

“Ctrack neem nooit voorvalle van battery-peutery ligtelik op nie, veral omdat dit dikwels ‘n duidelike teken is dat ‘n voertuig gesteel of gekaap word. Ons bevestig opnuut ons verbintenis om ons kliënte en hul bates tot die uiterste te beskerm,” het Pierre Bruwer, besturende direkteur van Ctrack SA, gesê.

 

Posted on by Media

Comments Off on Drywer en sy makker betrap terwyl hulle vragmotor steel