Klag van strafbare manslag na vermoedelike dronkbestuur in noodlottige ongeluk naby Oudtshoorn

 

n Klag van dronkbestuur na ‘n botsing op die Calitzdorppad sowat 40 km vanaf Oudtshoorn vanaand word nou na ‘n klag van strafbare manslag verander nadat een van die beseerdes in die hospitaal oorlede is. Volgens ‘n ooggetuie wat byna self in die botsing betrokke was het ‘n wit Mercedes ‘n Toyota bakkie met ‘n sleepwa verbygesteek en besef daar is aankomende verkeer.

Die bestuurder van die Mercedes het glo na links geswaai en die bakkie en sleepwa getref. Die bakkie het gerol en in die pad tot stilstand gekom terwl die Mercedes die pad byster geraak het en tot in die veld gerol het. Die bakkie en sleepwa het ‘n vrag pruime en perskes gedra.

Twee passasiers in die bakkie is ernstig beseer en een het in die hospitaal beswyk. Vier van die Mercedes se nege insittende (7 volwassenes en 2 kinders) is ook met beserings hospitaal toe geneem.

Verkeersbeamptes het die bestuurder van die Mercedes op die toneel vir alkohol getoets en die instrument het ‘n lesing van bykans ses keer meer as die toegelate lesing van 0,24 gegee.

Die ongelukstoneel is tans ‘n misdaadtoneel en die pad is tydelik gesluit terwyl die ondersoek plaasvind.

[Bron: Oudtshoorn Courant]

Posted on by jonckie

Comments Off on Klag van strafbare manslag na vermoedelike dronkbestuur in noodlottige ongeluk naby Oudtshoorn