Dakar – Toetswerk gaan voort met Toyota Racing SA wat Atlas Copco 450 aandurf

anthony-taylor-dennis-murphy-3_880x500

Die eindronde van die 2016-Donaldson-veldtydrenkampioenskap word hierdie naweek aan die buitewyke van die myndorpie Glenharvie beslis, en Toyota Gazoo Racing SA sal weer in drie voertuie in aksie wees. Die span het reeds die kampioenskap beklink danksy ’n reusagtige vertoning deur Leeroy Poulter en sy navigator, Rob Howie, wat hul Toyota Hilux in elke ronde waaraan hulle vanjaar deelgeneem het, op die boonste trappie van die wenverhoog parkeer het.

Noudat die kampioenskap in die sakkie is, is die span steeds besig om punte op te stapel ten einde die vervaardigerskampioenskap vir Toyota te verseker. Die Suid-Afrikaanse veldtydrenkampioenskap het Toyota ook van ’n gedugte platform vir toetswerk vir die komende Dakar-ren voorsien.

“Ons is baie bevoorreg dat die Suid-Afrikaanse toestande ons in staat stel om sulke goeie toetswerk vir die komende Dakar-ren te doen en daarvoor voor te berei,” sê Glyn Hall, die Toyota Gazoo Racing SA-spanhoof.

“Giniel de Villiers en Dirk von Zitzewitz het die nuwe Toyota Hilux Evo in die Sun City-450 getoets, en die motor sal hierdie naweek weer in aksie wees.”
Wat dit betref het die span nie net die Toyota Hilux Evo op die proef gestel nie, maar ook die bestaande vierwielaangedrewe Toyota Hilux getoets. Hoewel die Evo sy spoed oor rowwe terrein bewys het, het Hall se span ook groot vordering met die vierwielaangedrewe weergawe gemaak.

“Ons jongste toetsdata wys dat ons selfs nog groter potensiaal in die vierwielaangedrewe Toyota Hilux ontsluit het. Dít, tesame met die groter lugbeperker wat ons in 2017 mag gebruik weens die gemiddelde hoër hoogte bo seevlak van aanstaande jaar se ren, beteken dat ons bestaande voertuig uiters mededingend sal wees,” sê Hall voorts. “Die gevolg is dat ons besluit het om die vierwielaangedrewe Toyota Hilux in die 2017-Dakar in te skryf eerder as om die ren met die nuwe Toyota Hilux Evo aan te durf.”

Hall grond hierdie finale besluit op die vertoning van Nasser Al-Attiyah en sy navigator, Matthieu Baumel, wat onlangs die Marokkaanse veldtydren in ’n vierwielaangedrewe Toyota Hilux gewen het. “Dit is die sinvolste keuse op hierdie tydstip,” sê Hall. “Hoewel die Toyota Hilux Evo se verrigting ons reg van die eerste toets af verras het, was die tweewielaangedrewe uitleg ’n massiewe tegniese uitdaging. Die span het meer tyd nodig om die voertuig se volle potensiaal te ontgin en die sou maklik wees om die volgende paar weke in die aanloop tot die 2017-Dakar fokus te verloor. Die vierwielaandrywing het sy duursaamheid in die onlangse Dakar-renne bewys, en ons het nou meer verrigting as ooit tevore. Op die ou einde gaan dit net oor die beste moontlike voertuig vir ons renjaers.”
Die span sal ten spyte van die skuif steeds aan die ontwikkeling van die Toyota Hilux Evo werk, en die voertuig sal in die Atlas Copco-450 in die hande van Anthony Taylor en Dennis Murphy wees.

 

anthony-taylor-dennis-murphy-2_1800x1800“Anthony en Dennis sal die Toyota Hilux Evo behoorlik beproef en nog baie data in die proses insamel,” sê Hall. “Maar Giniel de Villiers en Dirk von Zitzewitz sal hulle terselfdertyd meer vertroud maak met hul vierwielaangedrewe Toyota Hilux wat nou ’n magdom verbeterings het wat hulle in werklike rentoestande op die proef sal stel.

Conrad Rautenbach sal weer vir Leeroy Poulter instaan wat steeds van ’n operasie herstel. Rautenbach is alles behalwe ’n nuweling in die span nadat hy derde in vanjaar se Toyota 1000-Woestynren en tweede in die onlangse Sun City 450 was – telkens agter die stuur van ’n Toyota Gazoo Racing SA Hilux.

Die Toyota Hilux het hom vanjaar weer bewys deur nie net die Donaldson-veldtydrenkampioenskap in die hande van Poulter/Howie te oorheers nie, maar het ook die FIA se veldtydrenwêreldbekerreeks by sy lys kampioenskappe gevoeg ‒ alles danksy die skouspelagtige vertoning van Al-Attiyah/Baumel, wat ook in die 2017-Dakar as deel van die Toyota Gazoo Racing SA-span in aksie sal wees.

Veldtydrengeesdriftiges kan die Toyota Hilux en die Toyota Hilux Evo hierdie naweek in die Atlas Copco-450 in aksie sien.
Die ren skop met ’n kwalifiserende voorren oor 100km af wat Vrydag 28 Oktober om 11:30 begin, met die hoofren wat Saterdag 29 Oktober volg. Die aangewese dienspunt sal weer by die Kloof-buiteklub in Glenharvie wees, terwyl openbare toegang tot alle gebiede gratis is.

conrad-rautenbach-rob-howie-5_1800x1800

Posted on by jonckie

Comments Off on Dakar – Toetswerk gaan voort met Toyota Racing SA wat Atlas Copco 450 aandurf