Opwinding vir Toyota Gazoo Racing SA met Toyota Hilux Evo in die Sun City 450

anthony-taylor-dennis-murphy-8_1800x1800

’n Gevoel van afwagting en ongekende opwinding heers in die Toyota Gazoo Racing SA-renkamp waar hulle die nuwe Toyota Hilux Evo vir sy eerste ren hierdie naweek in die Sun City 450 voorberei. Die Dakar-sterjaer Giniel de Villiers en sy gereelde navigator, Dirk von Zitzewitz, sal die voertuig aanvoer. Anthony Taylor en Dennis Murphy sal terselfdertyd in hul Toyota Hilux aan die byeenkoms deelneem, terwyl Conrad Rautenbach agter die stuur van die tweede Toyota Hilux langs Rob Howie sal inskuif.

“Conrad was derde in vanjaar se Toyota-1000-Woestynren agter die stuur van een van ons Toyota Hilux-renbakkies,” verduidelik Glyn Hall, die Toyota Gazoo Racing SA-spanhoof. “Aangesien Leeroy nog van ’n operasie wat verlede week gedoen is herstel, was Conrad ons logiese keuse.”

Die jaers- en navigatorskampioenskappe is reeds deur Poulter/Howie beklink, maar dit is steeds belangrik vir Toyota Gazoo Racing SA om al twee voertuie in te skryf ten einde ’n goeie uitslag in die vervaardigerskampioenskap te help verseker.
Wat dit betref, sal die Toyota Hilux Evo hierdie naweek nié ’n bydrae tot Toyota se punte lewer nie aangesien die voertuig as spesiale vergunning deur die sport se beheerliggaam, Sanora, in ’n toetslopie voor die renveld sal jaag.

“Ons is baie opgewonde om die nuwe Toyota Hilux Evo ’n geleentheid in die Sun City 450 te bied. Hierdie ren bestaan uit uiters geharde terrein wat op plekke baie soortgelyk is aan dit wat ons in die komende Dakar-veldtydren verwag,” sê Hall. “Ons mikpunt is egter om die nuwe voertuig se vering eerder as sy algehele spoed te beproef, en sal dus nie al sy krag loslaat nie.”

Toeskouers sal egter steeds ’n skouspel soos min van die twee vierwielaangedrewe Toyota Hilux-renbakkies met Taylor/Murphy en Rautenbach/Howie in die kajuit kan verwag. Dié twee voertuie is identies aan die weergawes wat derde en vyfde algeheel in die 2016-Dakar was.

“Die oorskakeling na tweewielaandrywing is iets heeltemal nuuts vir ons, maar ons leer vinnig,” sê Hall. “Giniel het hom puik van sy taak gekwyt toe ons die Toyota Hilux Evo verlede week gaan toets het, en sy koel, kalm en berekende benadering is duidelik ’n groot bate vir die span.”

Die Sun City 450 begin Vrydag 30 September met die kwalifiserende voorren wat om 11:00 afskop. Die hoofren volg Saterdag 1 Oktober en begin om 08:00 met die aangewese dienspunt (DSP), seremoniële wegspring en wenverhoog alles by die Sun City-kompleks.

Die wegspring/eindpunt vir die ren self is egter naby die dorpie Tweelaagte, sowat 30 km wes van Sun City.

Posted on by jonckie

Comments Off on Opwinding vir Toyota Gazoo Racing SA met Toyota Hilux Evo in die Sun City 450