Groot veranderinge in Toyota Gazoo Racing SA se aanslag vir Dakar 2017

toyota-hilux-evo-4_880x500

KYALAMI, GAUTENG – Toyota Suid-Afrika Motors en Toyota Gazoo Racing SA is opgewonde om groot veranderinge aan sy strategie vir die 2017-Dakar en verder aan te kondig. Dit sluit ’n rewolusionêre nuwe renvoertuig, wat as die Toyota Hilux Evo bekend sal staan, sowel as die insluiting van die veelvuldige Dakar-wenner, Nasser Al-Attiyah, in die Toyota Gazoo Racing SA-renspan in.

“Dit is ’n baie opwindende tydjie,” sê Glenn Crompton, Toyota SA Motors se visepresident vir bemarking. “Ons glo stewig in die Dakar-veldtydren as ’n manier om ons tegnologiese vordering en die legendariese taaiheid van die Toyota Hilux te wys. Die koms van die nuwe voertuig is die volgende stap in hierdie skouspelagtige avontuur, en ons verwelkom die Toyota Hilux Evo in ons stal.”

Die nuwe renvoertuig het tweewielaandrywing, groter veringbeweging, ingeboude banddrukbeheer en ’n groter lugbeperker as deel van die talle veranderings wat Toyota Gazoo Racing SA in staat sal stel om op meer mededingende voet aan die 2017-Dakar deel te neem.

Benewens die nuwe voertuig is die span ook in sy noppies met die voormalige Dakar-wenner en pasgekroonde FIA Veldtydrenwêreldbekerkampioen Nasser Al-Attiyah en sy navigator, Matthieu Baumel, wat hulle by die span aansluit. Al-Attiyah is in 2015 as die FIA se beste renjaer gegradeer en sal die span se kanse in die 2017-Dakar gewis ’n hupstoot gee.

“Nasser is uiters gelukkig agter die stuur van ons Toyota Hilux waarmee hy ronde vir ronde van die FIA se Wêreldbekerreeks gewen het,” sê die Toyota Gazoo Racing SA-spanhoof, Glyn Hall. “Ons sien baie uit na sy insette in die ontwikkeling van die nuwe voertuig en selfs nog meer om hom in die kleure van die Toyota Gazoo Racing SA-renspan vir die 2017-Dakar te sien.”

Al-Attiyah sluit hom by Giniel de Villiers en Leeroy Poulter as Toyota se jaers vir 2017 aan, terwyl De Villiers weer saam met sy jarelange Duitse navigator, Dirk von Zitzewitz, sal jaag. Poulter sal Rob Howie langs hom in die Toyota Gazoo Racing SA Hilux vir hul vierde Dakar-ren saam hê.

giniel-de-villiers-dirk-von-zitzewitz-2_1800x1800

Poulter is op die oomblik los voor in die Suid-Afrikaanse Nasionale Tydrenkampioenskap sowel as in die Donaldson-Veldtydrenkampioenskap en is in al twee dié twee reekse nog onoorwonne vir 2016. Hy het in vyf rondes van elke kampioenskap tot dusver op die boonste trappie op die wenverhoog gestaan nadat hy telkens agter die stuur van die Toyota Gazoo Racing SA Yaris S2000-tydrenmotor en die Toyota Gazoo Racing SA-Hilux gewen het.

Dit is reeds ongehoord, maar kan selfs nog meer skouspelagtig wees indien Poulter sy doel bereik om vanjaar se tydrenkampioenskap sowel as die veldtydrenkampioenskaop te wen. Sedert Hannes Grobler se seges van 1986 in beide die veldtydrenkampioenskap én die tydrenkampioenskap, kon geen jaer dit nog ewenaar nie. Boonop het selfs Grobler nie elke ren van beide kampioenskappe in 1986 kon wen nie.

Op internasionale gebied het die Toyota Hilux wat in Suid-Afrika ontwerk, gebou en ontwikkel is, vyf oorwinnings in die 2016-FIA-veldtydren-wêreldbekerreeks in die hande van Al-Attiyah en Baumel gewen. Die Toyota Hilux is deesdae ’n bekende gesig in wêreld-veldtydrenbyeenkomste en nie minder nie as 28 Toyotas het in die 2016-Dakar net in die afdeling vir motors deelgeneem.

leeroy-poulter-rob-howie-2_1800x1800

GROOT VERANDERINGE IN TOYOTA GAZOO RACING SA SE 2017-DAKAR-MEDEDINGER

• Splinternuwe Toyota Hilux Evo in 2017-Dakar
• Rewolusionêre ontwerp uit Suid-Afrika
• Tweewielaandrywing
• Ligter, vinniger as 2016-Toyota Hilux
• Kernondervinding van vorige jare in ontwerp behou

KYALAMI, GAUTENG – Die 2017-Dakar is om die draai ¬– oor minder as ses maande – en Toyota Gazoo Racing SA het die splinternuwe Toyota Hilux Evo wat in Januarie 2017 in Suid-Amerika sal deelneem, onthul. Die nuwe voertuig verteenwoordig ’n ommekeer vir die span aangesien dit ’n splinternuwe konsep is met tweewielaandrywing eerder as die vierwielaangedrewe weergawes wat voorheen ingespan is. Die keuse van tweewielaandrywing bied ’n stel reëls met groter vryheid as dié vir vierwielaangedrewe voertuie.

“Ons is baie opgewonde oor hierdie nuwe rigting,” sê Glenn Crompton van Toyota SA Motors. “Dit is in wese steeds ’n opregte Toyota Hilux, maar terselfdertyd glo ons dit bied ons nuwe geleenthede vir die 2017-Dakar en verder.”

Die nuwe voertuig voldoen aan al die reëls soos deur die FIA bepaal en wat deur die Amaury-sportorganisasie (ASO), die organiseerders van die Dakar-veldtydren, gebruik word. Dit beteken die voertuig het ’n aansienlik laer algehele gewig – net 1 300kg as die teiken teenoor die 1 915kg van die 4×4-weergawe van die Toyota Hilux. Die motor het ook groter wiele en bande van 940mm (in deursnit) teenoor die 805mm vir die 4×4, aansienlik meer veringbeweging en ’n ingeboude banddrukstelsel.

“In wese is dit ons benadering oor wat ’n tweewielaangedrewe Dakar-mededinger moet wees,” sê die Toyota Gazoo Racing SA-spanhoof, Glyn Hall. “Ons het al die toetswerk- en werklike renervaring wat ons die afgelope vyf jaar met die vierwielaangedrewe Toyota Hilux opgedoen het, ingespan en dit in die ligter, vinniger Toyota Hilux Evo ingebou.”

Die nuwe Toyota Hilux Evo pronk onder die dop met ’n vernuwende uitleg waarin al die noodsaaklike komponente – die enjin en ratkas – tussen die twee asse gemonteer is. Dit gee die voertuig ’n voordeel teenoor sy mededingers wat gewigsverdeling betref, en met al die swaarste komponente laag in die voertuig is sy swaartekragmiddelpunt baie laer as voorheen. Groter vryheid op die gebied van die reëls het die ingenieurs in staat gestel om ’n paar nuwighede te beproef.

nasser-al-attiytah-matthieu-baumel-2_1800x1800

“Die belangrikste vir ons was om so veel as moontlik van die vorige voertuig behoue te laat bly wat die vering en enjintegnologie betref,” sê Hall.
“Ons het op daardie gebied by dieselfde beproefde en hipermoderne V8-enjin gebly en al ons kennis gebruik om die onderstel en vering te ontwerp en op te stel.”

Die ASO het vir die 2017-weergawe van die Dakar-veldtydren laat weet dat die gemiddelde hoogte vir die ren hoër as 2000 meter bo seevlak sal wees. Dit beteken die turbolose V8-enjin mag die eerste keer ’n lugbeperker van 38mm gebruik, wat die moderne Toyota-enjin in staat sal stel om baie meer doeltreffend asem te haal. Dit sal ook die eerste keer wees dat Toyota, MINI en Peugeot almal dieselfde grootte lugbeperker sal hê, aangesien ons mededingers voorheen ’n voordeel van 1mm of 2mm onderskeidelik gehad het.

“Dit is inderdaad goeie nuus,” sê Crompton. “Die nuwe motor, tesame met die groter lugbeperker, sal ons in ’n sterk posisie plaas en ons renjaers ’n beter platform gee waarvandaan hulle kan werk wanneer die ren in Januarie begin.’’

Die nuwe voertuig sal nou strawwe toetse en verfyning ondergaan voordat dit aan die einde van die jaar na Amerika verskeep sal word om in Januarie aan die wêreld se strafste motorsportbyeenkoms, die Dakar-veldtydren, deel te neem.

Toyota Gazoo Racing SA gee erkenning aan sy borge en amptelike spesialisverskaffers en tegniese vennote:

Toyota geniet steeds ’n wedersyds gunstige vennootskap met Duxbury Netgear, Hallspeed, die Innovation-groep, Toyota Finansiële Dienste, SKF, Spanjaard, Robor, NGK, Donaldson, Mastercraft, Edgecam, Supreme Springs, Shatterprufe, Smith’s Manufacturing, Peritus Forex en OMP.

Posted on by jonckie

Comments Off on Groot veranderinge in Toyota Gazoo Racing SA se aanslag vir Dakar 2017