Algehele tydrenkampioenskapstitel vir Leeroy Poulter/Elvéne Coetzee

 giniel-de-villiers-carolyn-swan-6_1800x1800

  • Algehele tydrenkampioenskapstitel vir Leeroy Poulter/Elvéne Coetzee
  • Klas S1600-kampioenskap vir Guy Botterill/Simon Vacy-Lyle
  • 1e algeheel vir Giniel de Villiers/Carolyn Swan (Toyota Yaris S2000)
  • 2e algeheel vir Leeroy Poulter/Elvéne Coetzee (Toyota Yaris S2000)
  • 3e algeheel vir Theuns Joubert/Mari van der Walt (Toyota Auris NRC4)

Die stryd in die 2016-Suid-Afrikaanse Nasionale Tydrenkampioenskap is verby. Toyota Gazoo Racing SA, in samewerking met Total Quartz, het Saterdag sake in hul “tuis”-byeenkoms, die Toyota-Kaap-tydren, afgehandel. Leeroy Poulter/Elvéne Coetzee was wel die naaswenners, maar het sodoende genoeg punte aangeteken om die kampioenskap ’n hele ronde voor die einde van die reeks te beklink. Hul spanmaats, Giniel de Villiers en Carolyn Swan, het hul Toyota Gazoo Racing SA Yaris S2000 terselfdertyd op die boonste trappie van die wenverhoog parkeer, wat beteken De Villiers het sy tweede Toyota-Kaap-handelaarstydren gewen.

“Dit was ’n puik uitslag vir ons vir die naweek,” het die Toyota Gazoo Racing SA-spanhoof, Glyn Hall, by die podiumgeselligheid by die Malmesbury-sportklub gesê.

“Met Leeroy en Elvéne wat die 2016-titel wen en Giniel en Carolyn wat ’n welverdiende oorwinning hier in die Swartland aangeteken het, kan dit nie anders nie.”

leeroy-poulter-elvene-coetzee-3_1800x1800

De Villiers/Swan was in ’n klas van hul eie in die Wes-Kaap, waar De Villiers sy heel eerste tydrenoorwinning aangeteken het toe hy en sy destydse navigator, Greg Godrich, die byeenkoms in 2014 gewen het. De Villiers/Swan het vanjaar hul pad tot die algehele oorwinning oopgehou deur elk behalwe twee van die Toyota-Kaap-handelaarstydren se twaalf sneltrajekte te wen. Hul spanmaats Poulter/Coetzee het die louere in sneltrajekte 6 en 12 ingeoes.

“Ons het ’n baie goeie byeenkoms gehad,” het ’n oorstelpte De Villiers gesê nadat hulle die vonkelwyn van die boonste trappie van die wenverhoog af gespuit het. “Die Toyota Yaris het foutloos geloop, en ons het in omtrent elke sneltrajek skoon lopies gehad. Dit is fantasties om weer te wen.”

Die naweek was die einde van Poulter/Coetzee se strook onoorwonne byeenkomste in die 2016-tydrenkampioenskap. Hulle het egter genoeg punte gehad om die 2016-kampioenskap met nog een ronde oor te verseël, en Poulter is nou een van net ’n handjie vol renjaers wat die nasionale kampioenskap in tydrenne en veldrenne gewen het.

“Ons het vanoggend baie tyd verloor toe ons twee pap wiele in Sneltrajek 8 gehad het,” het Poulter gesê. “Dit was net slegte geluk, maar het ons buite bereik van die stryd om ’n oorwinning geplaas.”

Met nog net twee rondes in die Donaldson-veldtydrenkampioenskap vir 2016 op die kalender, en Poulter en sy navigator Rob Howie op die oomblik ver voor in die kampioenskap, kan Poulter hom moontlik by Hannes Grobler aansluit as die enigste jaer wat al twee kampioenskappe in dieselfde jaar gewen het.

Die private jaer Theuns Joubert met Mari van der Walt langs hom in die navigatorsitplek van hul Shalom Racing Toyota Auris NRC4 het die Toyota-driekuns agter die twee fabrieksingeskrewe Toyota Yaris S2000-motors op die podium met ’n puik derde plek algeheel afgerond.

leeroy-poulter-elvene-coetzee-11_1800x1800

Dinge het egter nie uitgewerk soos wat die verdedigende Klas S1600-kampioene, Guy Botterill en sy navigator, Simon Vacy-Lyle, beplan het nie. Hulle was goed in beheer van sake in die Klas S1600-stryd toe hulle naby die einde van Sneltrajek 8 by ’n plaashek aankom. Dit lyk asof die wind die hek effens toegedruk het, en hul motor het die hek teen hoë spoed getref. Die kosmetiese skade aan die Yato Toyota Etios S1600 was aan die skraal kant en die motor het op die oog af min skade opgedoen, maar onder die dop het die verkoeler in die slag gebly.

“Dit het die enjin laat oorverhit, en ons moes noodgedwonge stilhou. Dit was nie juis hoe ons die kampioenskap wou afsluit nie,” het Botterill gesê. Hulle het egter ten spyte van die feit dat hulle nie die Kaapse byeenkoms voltooi het nie, genoeg punte deur die seisoen opgestapel om die klaskampioenskap te beklink en dit by hul twee vorige kampioenskapsoorwinnings te voeg.

“Ons het in die geheel al die rede in die wêreld om in die wolke oor ons vertoning te wees,” het Hall gesê. “Ons het hierdie naweek al ons doelwitte bereik ‒ ons het ons tuisbyeenkoms gewen, Leeroy en Elvéne het die kampioenskap gewen, en Guy en Simon het ’n driekuns aangeteken.”

Die groot aantal toeskouers het bevestig dat die Toyota-Kaap-handelaarstydren een van die hoogtepunte van die jaar was. Die laaste ronde van die seisoen, wat die naweek van 21 en 22 Oktober 2016 in Gauteng beslis word, is volgende aan die beurt.

giniel-de-villiers-carolyn-swan-5_1800x1800

Posted on by jonckie

Comments Off on Algehele tydrenkampioenskapstitel vir Leeroy Poulter/Elvéne Coetzee