Welslae vir Toyota Gazoo Racing SA in Lichtenburg 450

lichtenburg450-tgrsa-1387_880x500

Toyota Gazoo Racing SA, in samewerking met Total Quartz, is steeds onoorwonne ná vier rondes van die 2016-Donaldson-veldtydrenkampioenskap. Leeroy Poulter en sy navigator, Rob Howie, het hul vierde agtereenvolgende oorwinning in die Lichtenburg 450, wat die naweek van 29 en 30 Julie 2016 beslis is, aangeteken. Hul spanmaats, Anthony Taylor en Dennis Murphy, was weer die naaswenners met hul posisie in die kampioenskap in beton gegiet.

“Dit was ’n puik naweek vir die span,” het Glyn Hall, spanhoof van Toyota Gazoo Racing SA, by die aangewese dienspunt aan die buitewyke van Lichtenburg in Noordwes gesê. “Die naweek is ongelukkig deur omstrede straftye wat nog op ’n groot aantal deelnemers toegepas kan word, bederf, maar soos sake nou staan, het ons die ren gewen.”
Die probleem was onsekerheid onder die renjaers oor ’n stopteken by ’n spoorwegkruising, hoewel die besonderhede daarvan steeds onduidelik is. Toe die stof uiteindelik oor die Lichtenburgse roete gaan lê, is geen finale besluit oor die straftye geneem nie en al die uitslae is nog aan appèl onderhewig.

“Hoe dit ook al sy, ons is tevrede met die feit dat Anthony en Leeroy nog ’n skoon lopie gehad het, met ’n pap wiel elk die enigste probleem. Ons jaers was van begin tot einde voor, en nadat Leeroy en Rob die kwalifiserende voorren gewen het, het hulle hul voorsprong van begin tot einde behou.”

Die naweek se uitslae het ’n verdere hupstoot gekry nadat die 4×4 Mega World-jaers Jason Venter en Vince van Alleman hul Klas T-Toyota Hilux tot ’n klasoorwinning aangevoer het. Klas T is vir V8-aangedrewe voertuie met vaste-as-agtervering teenoor die onafhanklike agtervering van die voertuie in die FIA-klas waar Poulter- en Taylor-hulle jaag.

Venter/Van Alleman het die hoofren in die tweede posisie in hul klas ‒ net agter die Volkswagen Amarok van Gary Bertholdt ‒ begin. Die Hilux-jaers het die Volkswagen egter verbygesteek om volpunte in hul klas aan te teken, wat hul posisie aan die bopunt van die punteleer in hul klas verstewig het.

In Klas S vir voertuie met enjins tot vier liter het die oudkampioen Jannie Visser met Chris Visser Jnr langs hom ook volpunte gekry toe hulle die wenstreep in die eerste plek in hul klas in hul Toyota Hilux oorgesteek het.

Poulter/Howie se oorwinning in die Lichtenburg 450 beteken hulle is steeds onoorwonne in vanjaar se kampioenskap. Daarbenewens het Poulter ook elke nasionalekampioenskapsren wat hy vanjaar saam met Toyota Gazoo Racing SA, in samewerking met Total Quartz, ingeskryf het, gewen.

“Ons is baie in ons skik dat die Toyota Hilux nog onoorwonne is in al ons wêreldwye renne waarvoor ons tot dusver vanjaar ingeskryf het, met die uitsondering van Dakar 2016. Nasser Al-Attiyah en Matthieu Baumel het da nook verlede naweek die Baja Aragon in Spanje gewen,” het Hall gesê.

Al-Attiyah het vier oorwinnings agter mekaar aangeteken, terwyl Poulter dieselfde in Suid-Afrika gedoen het. Die Toyota Hilux, wat in Suid-Afrika ontwerp, gebou en ontwikkel is, het hom as uiters betroubare en hoogs suksesvolle renmotor bewys.

Die volgende byeenkoms op die 2016-Suid-Afrikaanse veldtydrenkalender is die Nkomazi 450 in Malalane, wat die naweek van 26 en 27 Augustus 2016 beslis word.

Posted on by jonckie

Comments Off on Welslae vir Toyota Gazoo Racing SA in Lichtenburg 450