Poulter / Howie steeds onoorwonne nadat Toyota Gazoo Racing SA oorheers in Malalane

leeroy-poulter-rob-howie-3_1800x1800

Leeroy Poulter en sy navigator, Rob Howie, van Toyota Gazoo Racing SA in samewerking met Total Quartz, het hul onoorwonne lopie vir 2016 voortgesit toe hulle hul vyfde agtereenvolgende oorwinning in die 2016-Donaldson-veldtydrenkampioenskap in die Nkomazi-450, die vyfde ronde van vanjaar se kampioenskap, aangeteken het.

“Leeroy en Rob het vandag ’n skoon ren gehad en daarin geslaag om hul onoorwonne lopie vir die seisoen voort te sit,” het die Toyota Gazoo Racing SA-spanhoof, Glyn Hall, by die eindpunt by die Riverview-voorbereidingskool in Malalane gesê. “Hulle het hul staal in hierdie byeenkoms behoorlik gewys nadat hulle die naaswenners in die kwalifiserende ren was.”

Poulter/Howie was ná Vrydag se voorren agter hul spanmaats, die voormalige kampioene Anthony Taylor en Dennis Murphy, nadat die uiteindelike wenners ’n pap opgedoen en ’n kortkop agter hul spanmaats terugsak het.

“Anthony en Dennis het ’n goeie ren in eie reg gehad,” het Hall gesê. “Hulle het Leeroy en Rob in die hoofren op hul tone gehou totdat ’n probleem met die kragstuur hulle gedwing het om hulle aan die ren te onttrek.”

Met Taylor/Murphy uit die ren was dit Poulter/Howie se verantwoordelikheid om die louere alleen in te oes. Hulle het niks teruggehou nie en die Nkomazi 450 op skouspelagtige wyse gewen. Dit was hul vyfde oorwinning in ’n ry, en Poulter is steeds onoorwonne in alles waaraan hy in 2016 deelneem, waaronder die Suid-Afrikaanse Nasionale Tydrenkampioenskap waar hy in ’n Toyota Gazoo Racing SA Yaris S2000, met Elvéne Coetzee langs hom in die navigatorsitplek, jaag.

Toyota het ook die oorwinning in Klas T ingeoes waar die plaaslike broers Johan en Werner Horn hul Malalane Toyota Hilux ná ’n strawwe stryd regdeur die naweek in die eerste plek oor die wenstreep gestuur het. Die Horns, wat al vroeër renne gewen het, moes ’n aanval van Johan van Staden (Nissan) en Jason Venter (Toyota) afweer, maar het die uiteindelike oorwinning beklink.

Agter hulle het Otto Graven en sy navigator, Bobby Brewis, hul heel eerste klasoorwinning in die Donaldson-kampioenskap aangeteken toe hulle hul Klas S- Toyota Hilux eerste laat eindig het.

“Algeheel was dit ’n fantastiese naweek vir Toyota,” het Hall gesê. “Daar kan met ons oorwinnings in al drie produksievoertuigklasse geen twyfel oor Toyota se oorheersing in veldtydrenne wees nie, en ons sien baie uit na die res van die seisoen.”

Volgende op die 2016-Donaldson-veldtydrenkalender is die Sun City 450, wat aan die einde van September in Noordwes aangebied word. Dit is die voorlaaste byeenkoms van die seisoen waarna die laaste gordyn in die Atlas Copco Gold 450, wat op 28 en 29 Oktober in Glenharvie in Gauteng beslis word, oor die seisoen sal sak.

Posted on by jonckie

Comments Off on Poulter / Howie steeds onoorwonne nadat Toyota Gazoo Racing SA oorheers in Malalane