Onoorwonne rekord hunker vir Toyota Gazoo Racing SA in Nkomazi 450

lichtenburg450-tgrsa-1491_1800x1800

Die Toyota Gazoo Racing SA-jaer Leeroy Poulter, wat nou vier agtereenvolgende veldtydrenoorwinnings sowel as vyf agtereenvolgende tydrenoorwinnings op sy kerfstok het, kies hierdie naweek koers na Malalane in die Laeveld met die doel om sy onoorwonne rekord vir 2016 ongeskonde te hou. Die span, met die steun van Total Quartz, sal weer twee Toyota Hilux-renbakkies in Klas FIA aanvoer. Die tweede voertuig sal oudergewoonte deur die oudkampioene Anthony Taylor en Dennis Murphy beman word.

Al sit Poulter en sy navigator, Rob Howie, veilig bo-aan die punteleer in die kampioenskap, sal hulle gewis die druk op hulle in die Nkomazi 450 voel.

“Daar is geen twyfel dat Leeroy en Rob elke ren vanjaar kan wen nie,” sê die Toyota Gazoo Racing SA-spanhoof, Glyn Hall. “Maar ons beleid was nog altyd een ren op ’n keer. Ons moet op hierdie naweek fokus en die beste doen wat ons kan.”

Hall se pragmatiese uitkyk kan dalk deel van die span se ongekende sukses vanjaar wees.
Die twee FIA-toegeruste Toyota Hilux-renvoertuie is bykans identies aan die voertuie wat hulle in die Dakar gebruik, en was onlangs weer in die nasionale kollig danksy Nasser Al-Attiyah en Mattieu Baumel se oorwinnings in die FIA se Veldtydren-Wêreldbekerreeks.

Op plaaslike bodem is Poulter/Howie egter 40 punte voor Taylor/Murphy in die afdeling vir produksiemotors, en met nog drie oorblywende renne in die kampioenskap oor sewe rondes lyk dit asof Taylor/Murphy die enigste ander deelnemers is wat ’n berekende kans het om die vlieënde Poulter/Howie te klop.

Agter die twee FIA-Klas-voertuie woed die stryd om die louere in Klas T egter voort. Die 4×4 Mega World-jaer Jason Venter en sy navigator, Vince van Alleman, is op die oomblik voor in die kampioenskap in hul Toyota Hilux, maar hul voorsprong is ’n skrale agt punte, wat beteken die oudkampioen Chris Visser (Ford) sal hulle in Malalane in sy visier hê.

Die plaaslike gunstelinge, die broers Johan en Werner Horn (Malalane Toyota Hilux), sal ook aan die Nkomazi 450, hul tuisbyeenkoms, te sien wees. Hulle het hul staal die afgelope twee seisoene goed gewys, maar kon nog nie vanjaar dieselfde wenvertoning herhaal nie. Hulle sal egter gewis daarop uit wees om ’n goeie vertoning voor hul tuisskare op te stel.

Klas S het ’n suiwer Toyota-stryd geword, maar die verdedigende kampioene, Heinie Strumpher en sy navigator, Henri Hugo (4×4 Mega World Toyota Hilux), kon nie in die vorige byeenkoms punte aanteken nie.

Dit het die deur vir Otto Graven en Bobby Brewis (Graven Motorsport Toyota Hilux) geopen om die voortou in die kampioenskap oor te neem, maar die verskil van nege punte is maar skraal as ’n mens in ag neem dat drie rondes nog op die aanspraakmakers wag.

Jannie Visser en sy seun Chris is in hul Span Baberspan-Toyota Hilux ook nog binne bereik, wat voorspel dat die Nkomazi 450 ’n skouspelagtige stryd gaan oplewer.

Die Nkomazi 450 begin Vrydag 26 Augustus om 11:30 met die kwalifiserende voorren wat die volgende dag deur die hoofren, wat 08:30 begin, gevolg word. Die renhoofkwartier en aangewese dienspunt sal soos voorheen by die Riverview-voorbereidingskool in Malalane wees.

Posted on by jonckie

Comments Off on Onoorwonne rekord hunker vir Toyota Gazoo Racing SA in Nkomazi 450