Welslae vir Toyota Gazoo Racing SA in 2016-Volkswagen Tydren

leeroy-poulter-elvene-coetzee-3_1800x1800

Die vierde ronde van die 2016-Suid-Afrikaanse Nasionale Tydrenkampioenskap, die Volkswagen-tydren, het tot die vierde agtereenvolgende oorwinning vir Toyota Gazoo Racing SA in samewerking met Total Quartz se jaers Leeroy Poulter en Elvéne Coetzee gelei, wat hulle skoonskip tot dusver in 2016 laat maak het. Hul spanmaats, Giniel de Villiers en Carolyn Swan, het as naaswenners in die tweede Toyota Yaris S2000 oor die wenstreep geseil.

“Die naweek het vir ons baie goed verloop,” het Glyn Hall, die spanhoof van Toyota Gazoo SA Racing, gesê nadat die byeenkoms in Port Elizabeth geëindig het. “Leeroy sowel as Giniel het soos kampioene gejaag, en ons is baie bevoorreg dat Guy Botterill presies dieselfde in Klas S1600 gedoen het.”

Dié jong Durbanse jaer en sy navigator, Simon Vacy-Lyle, het ’n foutlose tydren gehad en van begin tot einde in Klas S1600 los voor in hul Yato-geborgde Toyota Etios S1600 gejaag.
Wat die twee fabrieksinskrywings betref, het Poulter/Coetzee ’n bykans foutlose tydren gehad, hoewel ’n tolslag net ’n kilometer voor die einde van die skouspelagtige Culturama-sneltrajek hulle byna die tydren gekos het. Dié sneltrajek oor 19,2 kilometer het ’n skrikwekkende reputasie danksy die talle kronkels en draaie die hele roete lank, met massiewe afgronde wat veral by die jaers spook.

“Ons het hard deur die Culturama gejaag met die wete dat die algehele rekord binne ons bereik was,” het Poulter ná die sneltrajek gesê. “Alles het fantasties gelyk totdat ons naby die eindpunt gekom het. Ons het net ’n bietjies te vinnig vir die toestande op ’n skerp draai afgeskiet en uiteindelik die Yaris getol. Gelukkig het ons niks getref nie en kon ons nie net die sneltrajek voltooi nie, maar voortjaag om die byeenkoms te wen.”

Volgens Hall het die stophorlosie gewys die rekord was binne maklike bereik van Poulter/Coetzee totdat die voertuig getol het.

De Villiers/Swan het ook ’n benoude oomblik gehad toe hulle ’n rots skrams met die linkervoorwiel van hul Toyota Yaris S2000 in Sneltrajek 10 getref het. Dit het hulle net meer as ’n minuut gekos, maar al twee motors het die res van die byeenkoms sonder verdere teenspoed voltooi.

Die 2016-Volkswagen-Tydren, wat die naweek van 15 en 16 Julie gehou is, het sneltrajekte in die Longmore-woud en gebiede in die omgewing van Port Elizabeth behels. Vanjaar se ren is die eerste keer in jare deur droë en stowwerige toestande gekenmerk aangesien dit gewoonlik in gladde en nat toestande beslis word.

Die volgende tydren is die vyfde ronde in vanjaar se kampioenskap, wat die naweek van 19 en 20 Augustus in en om die Gautengse dorp Heidelberg aangebied word.

Posted on by jonckie

Comments Off on Welslae vir Toyota Gazoo Racing SA in 2016-Volkswagen Tydren