Toyota Hilux die amptelike ondersteuningsvoertuig in ononderbroke ballonvaart om die wêreld

toyota-hilux_1_1800x1800

• Fedor Konyukhov het sy ballonvaart om die wêreld suksesvol voltooi en op 23 Julie om 11:11 Russiese tyd naby die klein dorpie Bonnie Rock geland
• Die bekende Russiese avonturier het die wêreldrekord verbeter deur in net elf dae reg om die aardbol te sweef. Die vorige rekord, wat 14 jaar gelede deur die Amerikaner Steve Fosset opgestel is, is met amper twee dae verbeter.
• Die ikoniese Toyota Hilux-bakkie was deel van al die vlugvoorbereidings en het Fedor by die landingspunt as die amptelike ondersteuningsvoertuig vir die projek vir die ballonvaart om die wêreld aangesluit.

’n Nuwe hoofstuk is in die geskiedenis van ongelooflike menslike prestasies geskryf. Die gewilde Russiese avonturier Fedor Konyukhov het ’n wêreldrekord vir ’n ononderbroke ballonvaart om die wêreld in net elf dae opgestel. Die vorige rekord, wat deur die Amerikaner Steve Fosset opgestel is, is met twee dae verbeter.

Fedor Konyukhov se ambisieuse onderneming is regstreeks deur Toyota met die nuwe Toyota Hilux as amptelike voertuig vir hierdie ongelooflike reis ondersteun. Die legendariese Toyota Hilux-bakkie het die vooraanstaande avonturier meer as ’n jaar gelede in al die voorbereidings vir die ballonvaart om die aardbol vergesel. Die voertuig het eerstens die opleidingsfase in Rusland meegemaak. Daarna het die sewendegenarasie-Toyota Hilux as deel van die vlugvoorbereiding in Junie aan die amptelike oorhandiging van ’n nuwe lugballon van Cameron Balloons in Bristol in die VK deelgeneem. Die onoorwinlike bakkie was op 12 Julie onmisbaar by die lanseerplek naby Northam in Australië, waar die Toyota Hilux ingespan is om die ballon te anker om te voorkom dat dit voortydig opstyg terwyl die gaskamer met helium gevul is. Laastens was die bakkie een van die eerstes by die landingsplek met Konyukhov se span aan boord. Nadat die ballon geland het, is dit weer met die hulp van die Toyota Hilux geanker, wat Konyukhov in staat gestel het om veilig uit die mandjie te klim.

toyota-hilux_2_1800x1800

Konyukhov se ballon was vir elf dae in die lug en het ’n afstand van 34 950 kilometer afgelê. Die ballon het oor die Stille, die Atlantiese en die Indiese oseane gevlieg, verby Antarktika gesweef en dwarsoor Australië, Suid-Amerika en Afrika gevlieg. Konyukhov was by tye 10 600m bo die grond en moes temperature van tot minus 55oC die hoof bied.

Konyukhov se seun Oscar, wat die span op die grond gelei het, het ter viering van die nuwe wêreldrekord gesê hy is baie trots op sy pa.

“Dit is moeilik om die omvang van wat hy vermag het, te begryp. Dit was ’n kans van een uit ’n miljoen om die wêreldrekord van ’n ononderbroke ballonvlug om die aardbol met die eerste probeerslag suksesvol te voltooi, maar dit is presies wat hy gedoen het!” het hy gesê.

Tatiana Khalyavskaya, bemarkingsdirekteur by Toyota Motor van Rusland, het die span geluk gewens.

“Die hele Toyota-span wens Fedor Konyukhov en almal wat deel van die rekord-ballonvaart om die aardbol was, van harte geluk. Die voorbeeld van ’n 65-jarige reisiger wat die natuur en toestande aangedurf en oorkom het, bewys dat niks vir die mens onmoontlik is nie – veral nie wanneer hy deur ware vriende en ’n getroue voertuig waarop ’n mens in die ergste uiterste toestande kan rugsteun, ondersteun word,” het sy gesê.

toyota-hilux_3_1800x1800

Posted on by jonckie

Comments Off on Toyota Hilux die amptelike ondersteuningsvoertuig in ononderbroke ballonvaart om die wêreld