2016-Suid-Afrikaanse Nasionale Tydrenkampioenskap verskuif nou na Oos-Kaap

giniel-de-villiers-carolyn-swan-15_1800x1800

Die 2016-Suid-Afrikaanse Nasionale Tydrenkampioenskap verskuif nou na die Oos-Kaap vir die vierde ronde van die reeks, die Volkswagen-tydren op 15 en 16 Julie. En Toyota Gazoo Racing SA, in samewerking met Total Quartz, is oorgehaal om van die skouspelagtigste en uitdagende tydren-sneltrajekte op die kalender aan te durf. Leeroy Poulter sowel as Giniel de Villiers sal agter die stuur van hul uiters betroubare Toyota Gazoo Racing SA Yaris S2000-tydrenmotors in aksie wees.

“Die Volkswagen-tydren is een van die hoogtepunte van die tydrenseisoen,” sê Glyn Hall, hoof van die Toyota Gazoo Racing SA-renspan. “Die sneltrajekte in die Longmore-woud is ongenaakbaar vinnig en tegnies, en vereis nie net die deelnemers se beste nie, maar ook die uiterste van die motors.”

Buiten die gehalte van die sneltrajekte speel die weer dikwels ’n rol in die winderige Port Elizabeth. Die laaste paar Volkswagen-tydrenbyeenkomste is deur verskeie oorstroomde trajekte gekenmerk, wat die deelnemers gedwing het om katvoet deur die woud te beweeg.

Die oudkampioene Poulter en sy navigator, Elvéne Coetzee, is ná drie rondes tot dusver vanjaar 12 punte voor hul spanmaats De Villiers en sy navigator, Carolyn Swan, aan die bopunt van die punteleer. Die private Toyota-jaer Ernie van der Walt is in die derde plek.

Wat Klas S1600 vir voorwielaangedrewe voertuie met enjins tot 1600cc betref, het die verdedigende kampioen, Guy Botterill, ’n gesonde voorsprong van 21 punte in sy plaaslik geboude Toyota Etios S1600.

“Leeroy en Elvéne is nog onoorwonne in die 2016-tydrenkampioenskap. Trouens, Leeroy is tot dusver vanjaar onoorwonne in die tydrenkampioenskap sowel as die veldtydrenkampioenskap,” sê Hall. “Die Volkswagen-tydren vereis egter respek en onberispelike voorbereiding, en hoewel ons altyd na ’n goeie uitslag uitsien, aanvaar ons niks as vanselfsprekend in die Oos-Kaap nie.”

Die 2016-Volkswagen-tydren word die naweek van 15 en 16 Julie beslis, en pronk met ’n vernuwende vars uitleg. Die aantal Longmore-sneltrajekte is verminder, maar die byeenkoms behou die mees uitdagende en bekendste sneltrajekte, waaronder King’s View en Culturama. Toeskouers sal egter maklike toegang tot die sneltrajekte om die PE-ovaalbaan hê.

Posted on by jonckie

Comments Off on 2016-Suid-Afrikaanse Nasionale Tydrenkampioenskap verskuif nou na Oos-Kaap