Die woestyn roep vir Toyota Gazoo Racing SA in Botswana

tgrsa16-leeroy-poulter-and-rob-howie-2_1800x1800

Met die halfpadmerk van die 2016-Donaldson-veldtydrenkampioenskap om die draai, is die Toyota Gazoo Racing SA-renspan besig om hom sy voorbereiding vir die skouspelagtige Toyota-Kalahari-Botswana-1000-Woestynren af te rond. Die byeenkoms is die kroonjuweel in die plaaslike kampioenskap en verteenwoordig die derde en vierde rondes van vanjaar se reeks. Die Woestynren word van 24 tot 26 Junie 2016 in die omgewing van Jwaneng in die suide van Botswana beslis.

“Die Woestynren is ’n grote – nie net vir ons nie, maar vir al die deelnemers in die kampioenskap. Dit is hoofsaaklik weens die dubbele aantal punte wat in die ren op die spel is,” sê die Toyota Gazoo Racing SA-spanhoof, Glyn Hall. “Ons het ook weens die feit dat dit ’n Toyota-geborgde byeenkoms is, heelwat meer druk op ons om goed te doen.”

Die 2016-ren is vir die span ook van belang omdat dit hul eerste ren saam met hul nuwe borgvennote, Total Quartz, is. Die span sal dus as die Toyota Gazoo Racing SA-span in samewerking met Total Quartz wees, en die Toyota Hilux-renkentekens is aangepas om die nuwe vennootskap te weerspieël.

Die TOTAL-groep, waarvan die hoofkantoor in Parys in Frankryk is, belê jaarliks miljarde euro in navorsing en ontwikkeling om te verseker dat hy in sy handelsnaambelofte “Energizing life every day” en sy produkbelofte “Keeps your engine younger for longer” voldoen.

Dineo Mondlane, Total se bemarkingsbestuurder, stel dit as volg: “Wanneer jy by ’n TOTAL-vulstasie aandoen om die tenk vol te maak, bied ons Excellium-brandstof ’n skoner produk met minder koolstof-uitlaatgasse wat jou meer kilometer per tenk gee. Wanneer jy Total-smeermiddels gebruik, is jy van net die beste vir jou enjin verseker, maar dit is nie net smeermiddels vir motors nie, maar smeermiddels vir elke soort enjin denkbaar ‒ van grassnyers tot boerderytoerusting en nywerheidsmasjinerie in die marine-, lugvaart-, mynbou- en landboubedrywe. Een uit elke vier vliegtuie wat byvoorbeeld by die OR Tambo-lughawe in Johannesburg opstyg, en een uit elke drie wat van die Kaapstadse Internasionale Lughawe af vertrek, word deur TOTAL-vliegtuigbrandstof aangedryf.

Toyota Gazoo Racing is een van die topspanne in die land, en ons is opgewonde oor die vooruitsig van talle podiumposisies in die res van vanjaar se renreeks”.

Verlede jaar se Toyota-Kalahari-Botswana-1000-Woestynren het in die eerste plek algeheel vir die Toyota-renspan geëindig nadat Anthony Taylor en Dennis Murphy ná drie strawwe dae in die woestyn as die algehele wenners geëindig het. Hulle het tweede viool agter hul spanmaats Leeroy Poulter en Rob Howie in die kwalifiserende voorren sowel as die openingsren gespeel, maar Poulter/Howie het vroeg op die laaste dag tyd verloor, wat hul spanmaats laat verbykom het. Hulle was uiteindelik derde algeheel hoewel hulle steeds genoeg punte aangeteken het wat hulle later gehelp het om die 2015-kampioenskap te beklink.
Toyota sal ook goed deur ’n magdom private jaers verteenwoordig word, onder wie Jason Venter en Vince van Alleman in hul 4×4 Mega World-Toyota Hilux (Klas T), sowel as die Horn-broers Johan en Werner in hul Klas T-Malalane Toyota-Hilux. ’n Hele paar Toyota-jaers sal ook in Klas S vir voertuie met enjins tot vier liter te sien wees, onder wie Jannie Visser, Heinie Strumpher, Otto Graven en Ronald Graven.

Benewens die private jaers sal Toyota Gazoo Racing SA in samewerking met Total Quartz ook ’n derde Toyota Hilux in Dakar-kleure inskryf. Dié voertuig sal deur die veldtydren-nuweling Conrad Rautenbach bestuur word met die uiters ervare Dirk von Zitzewitz wat diens as navigator sal doen. Rautenbach is ’n voormalige Suid-Afrikaanse nasionale tydrenkampioen, en het ook met groot sukses saam met Sebastien Loeb aan die wêreldtydrenkampioenskapsreeks (WRC) deelgeneem.

“Ons is baie opgewonde dat Conrad hom vir dier Woestynren by ons aangesluit het,” sê Hall. “Dit sal hom nie net die geleentheid gee om die Toyota Hilux met die oog op moontlike deelname aan die Dakar-byeenkoms te beproef nie, maar gee Dirk, Giniel de Villiers se navigator in die Dakar, ook meer tyd in die voertuig.”

Vanjaar se ren sal weer oor ’n algehele renafstand van 1000km beslis word en bestaan uit ’n kwalifiserende voorren oor 120km wat Vrydag 24 Junie beslis word, en dan twee individuele rondtes van nagenoeg 440km Saterdag en Sondag 25 en 26 Junie. Dié twee renrondtes bied verskillende terreinoppervlakke waaronder lae struike en bosse, hier en daar klipperige gedeeltes, en baie dik sand.

Soos voorheen sal die renhoofkwartier en aangewese dienspunt (DSP) by die Jwaneng-sportklub en skouterrein wees. Toegang tot hierdie gebied sal streng beheer word, maar toeskouers geniet gratis toegang tot die talle toeskouerpunte oral met die roete langs.

Posted on by jonckie

Comments Off on Die woestyn roep vir Toyota Gazoo Racing SA in Botswana