Toyota 86 word tweedeur “Shooting -Brake”

sb-1_880x500

Toyota se ikoniese koepee, die 86, is in ’n dramatiese tweede-‘Shooting-Brake’-konsep omgeskep. Die 86 ‘Shooting-Brake’ het op soortgelyke wyse as in die film Transformers van ’n sportmotor in ’n klassieke koepee met ’n kenmerkende langer daklyn ontwikkel. Die prototipe, wat die 86 meer praktiese agterkant-stilering gee, is in Sydney deur die Toyota 86-hoofingenieur Tetsuya Tada onthul.

Die Australies ontwerpte konsepmodel het reeds ’n groot aanhang regoor die wêreld, maar die kans is gering dat die model massaproduksie sal haal. Tada-san sê hy is deur ’n kwartskaal-kleimodel wat hy in November 2014 op besoek aan Australië onder oë gehad het, aangespoor om die projek te ondersteun.

“Ek was aangenaam verras en het só daarvan gehou dat ek my kundige takumi-prototipe-vakmanne aangesê het om die 86 ‘Shooting-Brake’-konsepmodel op grond van die Australiese ontwerp met die hand te bou. Die konsepmotor is ’n volwaardige werkende en rybare motor wat op Toyota-toetsbane deur sy passies gesit is,” sê hy.

sb4_880x500

Toyota Australië se afdelingsbestuurder vir nasionale bemarking, Brad Cramb, sê hy en sy span moes hulle op die tekenbord inhou. “Ons het soos kinders in ’n lekkergoedwinkel gevoel en daaraan gedink om die motor selfs nog meer te herstileer, maar soos ’n goeie ouer wat nee sê vir te veel soetgoed, het ons besluit om so veel as moontlik van die oorspronklike 86 te behou en net te verander wat absoluut noodsaaklik was,” sê hy.

“Die voertuig se silhoeëtte is steeds sportief, knap en energiek, maar die motor is aansienlik praktieser aangesien die dak gebruik kan word om goed soos branderplanke, fietse of bagasiehouers vir ’n wegbreek-naweek te dra terwyl die groter opening vir die nuwe bagasieruim laaiwerk vergemaklik. Die gevolg is dat ons die aantrekking van die koepee aansienlik uitgebrei het terwyl ons doelbewus die reinheid van wat al die ikoniese 86-styl geword het, behou het,” sê Cramb.

Die 86 ‘Shooting-Brake’ behou die asafstand en voorkant-ontwerp van die gewone koepee, maar die dak en agterkantste kwart is herontwerp om ’n ruimer en dieper bagasieruim te bewerkstellig. Dit het tot aansienlik meer bagasieruimte en groter kopruimte vir agterkant-passasiers gelei.

Hoewel Toyota se Melbourne-ontwerpspan met dié treffende ontwerp na vore gekom het, is en bly dit ’n eenmalige konsepmotor wat nooit ’n monteerlyn sal sien nie.

sb3_880x500

Posted on by jonckie

Comments Off on Toyota 86 word tweedeur “Shooting -Brake”