Oorwinnings vir Toyota Gazoo Racing SA in Veldtydrenkampioenskap

toyota-gazoo-racing-sa-podium-2_880x500

  • 1e algeheel vir Poulter/Howie (Toyota Hilux, Klas FIA)
  • 2e algeheel for Taylor/Murphy (Toyota Hilux, Klas FIA)
  • 1e in Klas S vir Strumpher/Hugo (4×4 Mega World-Toyota Hilux)
  • Toyota wen vervaardigersprys

VREDEFORT, VRYSTAAT – Dit was ’n treffende agtereenvolgende dubbele oorwinning vir Leeroy Poulter en sy navigator, Rob Howie, toe hulle die heel eerste Vredefort-Supernaelren, die tweede ronde van die 2016-Donaldson-veldtydrenkampioenskap, in hul Toyota Gazoo Racing SA Hilux gewen het. Hul spanmaats, Anthony Taylor en sy navigator, Dennis Murphy, het vir die kersie op die koek gesorg deur tweede in ’n identiese voertuig oor die wenstreep te jaag.

“Ons kan nie meer in ons skik wees met die manier waarop ons motorsport-seisoen vanjaar begin het nie,” het ’n oorstelpte Glyn Hall, die Toyota Gazoo Racing SA-spanhoof, Saterdag by die dienspunt in Vredefort gesê. “Ons het al twee openingsrondes van die tydrenkampioenskap gewen, en nou dieselfde in die veldtydrenkampioenskap reggekry.

“Leeroy is los voor in al twee die kampioenskappe, en ons is baie opgewonde oor die vooruitsigte vir die res van die seisoen.”

Poulter/Howie moes egter hard vir hierdie oorwinning baklei aangesien hulle aan die einde van die eerste rondte oor 100 kilometer 20 sekondes agter die Ford van die oudkampioene Chris Visser en sy navigator, Ward Huxtable, was.

Die Vredefort-Supernaelren was ’n nuwe eendaagse formaat, en die deelnemers het in die eerste van die dag se twee renrondtes in die volgorde van hul nasionale gradering weggespring. Dit het die twee Toyota Gazoo Racing SA-voertuie aan die voorpunt van die roete geplaas, wat beteken het dat hulle die pad moes “vee”.

“Die roete was op die meeste plekke toe onder gras,” het Poulter aan die einde van die eerste rondte gesê. “Dit het dit nie net verbasend glad gemaak nie, maar die spore waarin ons moes jaag, ook versteek.”

Die gevolg was dat Poulter/Howie in die tweede rondte 20 sekondes agter die Ford-jaers weggespring het, met Taylor/Murphy verder agtertoe in die vyfde plek ‒ ’n stewige 1:08 agter die voorjaers. Die twee Toyota Gazoo Racing SA-spanne het egter hard teruggeveg en die vinnigste tyd in die tweede rondte opgestel ‒ goed genoeg om hulle ná die 200 km van die ren die eerste en tweede plekke te besorg.

leeroy-poulter-and-rob-howie-3_880x500

Taylor/Murphy het die vinnigste tyd algeheel in die tweede rondte opgestel en hul spanmaats Poulter/Howie met 19 sekondes geklop. Poulter/Howie was in die eerste rondte egter een minuut en een sekonde vinniger as hul spanmaats, wat hulle in die saamgestelde tyd voor Taylor/Murphy geplaas het.

“Sjoe, wat ’n ren!” het die veelvuldige oudkampioen Taylor ná die Vredefort-Supernaelren gesê. “Ons het in die tweede ren baie hard gejaag, en die Toyota Hilux het weer soos klokslag geloop. Ons moes baie tyd inhaal, en dit is presies wat ons reggekry het – eerste en tweede vir die span is presies waarvoor ons gemik het.”

In Klas S, vir produksievoertuie met vaste agterasse en enjins met ’n verplasingsinhoud van tot vier liter, het die 4×4 Mega World-jaers Heinie Strumpher en sy navigator, Henri Hugo, die vlag in hul Toyota Hilux gewapper terwyl Otto Graven en Ronald Graven, wat elk in hul eie Toyota Hilux was, die Klas S-wenverhoog voltooi het.

Toyota het as gevolg daarvan die vervaardigersprys vir die Vredefort-Supernaelren gewen.

Die volgende ronde van die 2016-Donaldson-veldtydrenkampioenskap is die Toyota-1000-Woestynren, wat die laaste naweek in Junie 2016 in Botswana beslis word.

Die Woestynren is die vlagskip-byeenkoms in die reeks, en behels ’n driedaagse ren oor altesaam 1000 kilometer. Die renhoofkwartier sal weer in die dorpie Jwaneng in die suide van Botswana wees.

anthony-taylor-and-dennis-murphy-8_880x500

Posted on by jonckie

Comments Off on Oorwinnings vir Toyota Gazoo Racing SA in Veldtydrenkampioenskap