1e algeheel vir Leeroy Poulter/Elvéne Coetzee in Secunda -Tydren

leeroy-poulter-elvene-coetzee-11_880x500

Die tweede Secunda Motor-tydren, derde ronde van die 2016-Suid-Afrikaanse Nasionale Tydrenkampioenskap, het in ’n verbete stryd tussen die oudkampioene Leeroy Poulter en sy navigator, Elvéne Coetzee, en hul Toyota Gazoo Racing SA-spanmaats, Giniel de Villiers en sy navigator, Carolyn Swan, ontaard. Die twee Toyota Yaris S2000-spanne was in ’n wipplankstryd betrokke waarin Poulter/Coetzee in die 14e en laaste sneltrajek van die byeenkoms ’n voorsprong van net 1,2 sekondes teenoor De Villiers/Swan gehad het. Hulle het dié laaste sneltrajek van die byeenkoms met ’n enekele sekonde teenoor hul spanmaats gewen en die tydren met ’n gaping van ’n skrale 2,2 sekondes beklink.

“Wat ’n ren!” het Glyn Hall, spanhoof van die Toyota Gazoo Racing SA-renspan, in ekstase gesê.
“Ons het besluit om die twee toe te laat om voluit te jaag omdat ons glo dit is in die beste belang van die sport, en dit was die gevolg daarvan. Maar hulle het my grys hare gegee!”

Die twee Toyota Gazoo Racing SA-tydrenspanne het elk ’n volmaakte en skoon tydren sonder enige skade aan enige van die twee motors gehad. Die blitsige, plat sneltrajekte van die Secunda-omgewing het tot net vlietende oomblikke tussen hulle gelei, wat die groot skare toeskouers regdeur die tweedaagse byeenkoms op hul tone gehad het.

Die jong Ernie van der Walt, met sy nuwe navigator, Gerhard Snyman, langs hom, het die derde vinnigste tyd agter die twee fabriekspanne in die kajuit van sy Vecto Petroleum-Toyota Yaris S2000 opgestel. Van der Walt was ook in ’n taai stryd om die derde plek teen die Ford-jaer Wilro Dippenaar betrokke, maar laasgenoemde is later deur ’n meganiese probleem uitgedwing. Dit het Van der Walt gerieflik in die derde plek gelaat, wat Toyota skoonskip op die Secunda-tydren se wenverhoog laat maak het.

In Klas S1600, vir voorwielaangedrewe motors met enjins tot 1600cc, was dit die dubbele verdedigende kampioene Guy Botterill en Simon Vacy-Lyle wat hul derde agtereenvolgende klasoorwinning aangeteken het toe hulle ’n oortuigende oorwinning deur van die groen lig tot die geruite vlag los voor te jaag, aangeteken het.
“Vanjaar se Secunda Motor-tydren het vir groot vermaak vir die toeskouers gesorg, en was uiters suksesvol wat Toyota betref,” het Hall afgesluit. “Ons kon nie vir ’n beter uitslag gevra het nie, en ons is trots daarop dat ons weer ’n skouspelagtige byeenkoms vir ons aanhangers opgedis het.”

Die volgende byeenkoms op die kalender van die 2016-Suid-Afrikaanse Tydrenkampioenskap is die uiters gewilde Volkswagen-tydren, wat die naweek van 15 en 16 Julie in en om Port Elizabeth in die Oos-Kaap beslis word. Die skouspelagtige Longmore-woud sal weer die gasheer vir verskeie sneltrajekte wees, waaronder die skrikwekkende Culturama, wat as een van die top-tydrensneltrajekte in Suid-Afrikaanse tydrenne beskou word.

secunda-rally-podium-1_1800x1800

Posted on by jonckie

Comments Off on 1e algeheel vir Leeroy Poulter/Elvéne Coetzee in Secunda -Tydren