Toyota Hilux in perfekte posisie namate Al-Attiyah voorsprong rek in Qatar-Ren

au6i8856-kopia_880x500

DOHA, QATAR – Sneltrajek 3 van die Sealine-veldtydren, die derde ronde van die FIA se Veldtydren-wêreldbekerreeks, het die verdedigende kampioene Nasser Al-Attiyah en sy navigator, Matthieu Baumel, hul derde agtereenvolgende sneltrajek-oorwinning in hul Suid-Afrikaanse Toyota Hilux besorg. Hulle het sodoende hul voorsprong teenoor Yazeed Al Rajhi en sy navigator, Timo Gottschalk (MINI), met 40 sekondes vergroot en is nou ’n gesonde 08:36 algeheel voor.

“Dit was nog ’n goeie dag vir ons, al moes ons voor ry en die pad ‘vee’,” het
Al-Attiyah by die oornag-tentkamp by die internasionale Losail-rensentrum gesê. “Matthieu het skitterende werk gedoen, en die Toyota Hilux was so betroubaar soos altyd.”

Al-Attiyah was los voor vir die hele 355 km waaruit Sneltrajek 3 van vanjaar se roete bestaan het, en was by die 200km-merk meer as drie minute voor. ’n Wiel wat stadig pap begin word het, het dié superster van Qatar egter gedwing om die voet te lig, wat hom uiteindelik net oor die twee minute gekos het.

pc_edo9781_rid_1800x1800

“Die band het tot omtrent 1,3 bar afgeblaas, maar ons het besluit om deur te druk eerder as om die wiel te ruil,” het Al-Attiyah verduidelik. “Ons het geweet die res van die renveld was nie ver agter nie en wou nie die kans waag dat iemand by ons verbykom nie omdat dit ons in hul stof sou laat beland het.”

Die Toyota-jaers het hul voertuig ten spyte van hierdie effense terugslag nogtans in die vinnigste tyd vir die dag oor die wenstreep gestuur.

“Dit is fantasties om te sien hoe goed ons Toyota Hilux in die hande van Nasser en Matthieu doen,” het die Toyota Gazoo Racing SA-spanhoof, Glyn Hall, oor vandag se vertoning gesê. “En die ouens van Overdrive Racing, ons internasionale vennote wat na die motor omsien, doen net sulke goeie werk.”

Sneltrajek 4 kom more (Donderdag 21 April) aan die beurt en is amper net so lank as Sneltrajek 3. Die terrein sal lang, klipperige gedeeltes op grondpaaie insluit, met ’n paar duine wat ook deel van die roete sal wees. Die 2016-Sealine-veldtydren sluit Vrydag in Doha af nadat die deelnemers sowat 1 500 km oor vyf dae afgelê het.

nasser-saleh-al-attiyah-and-matthieu-baumel-looking-for-sealine-success-with-overdrive-racing_880x500

Posted on by jonckie

Comments Off on Toyota Hilux in perfekte posisie namate Al-Attiyah voorsprong rek in Qatar-Ren