Toyota Gazoo Racing SA gereed vir Sasol Tydren

tgrsa16-giniel-de-villiers-8_1800x1800

Toyota Gazoo Racing SA is ná sy suksesvolle begin in die 2016-tydrenseisoen oorgehaal om die moeilike sneltrajekte van die Sasol-tydren, die tweede ronde van die Suid-Afrikaanse Nasionale Tydrenkampioenskap, aan te durf. Leeroy Poulter en sy navigator, Elvéne Coetzee, het hul Toyota Yaris-S2000 tot ’n gerieflike oorwinning in die openingsronde in die Vrystaat aangevoer, terwyl hul spanmaats Giniel de Villiers en sy navigator, Carolyn Swan, as naaswenners uit die stryd getree het.

“Dit was ’n puik begin vir ons 2016-veldtog,” het die Toyota Gazoo Racing-spanhoof, Glyn Hall, by die span se hoofkwartier naby Kyalami gesê. “Ons moet nou net daarop voortbou.”

Die Sasol-tydren is ’n ware jaersbyeenkoms met lang en moeilike sneltrajekte in die laeveld in Mpumalanga. Vanjaar word die grootste deel van die byeenkoms in die omgewing om die dorp Sabie beslis, terwyl die tradisionele teersneltrajekte in Nelspruit ook weer deel van die byeenkoms sal wees.

“Ons werk steeds aan die Toyota Yaris as deel van ons voortgesette ontwikkelingsprogram,” sê Hall. “Ons het die motor effens meer jaersvriendelik vir die lang Sasol-tydren gemaak.”

Poulter/Coetzee sal die Toyota Gazoo Racing SA-aanslag as oudkampioene lei, hoewel De Villiers/Swan gewys het dat hulle die pas kan handhaaf om die vlieënde Poulter op sy tone te hou.

Poulter het onlangs ook die openingsronde van die Donaldson-veldtydrenkampioenskap in Vryburg gewen. Hy en sy veldrennavigator, Rob Howie, het ’n klinkende oorwinning losgejaag met hul spanmaats Anthony Taylor en Dennis Murphy in ’n identiese Toyota Gazoo Racing SA Hilux in die tweede plek.

Die Sasol-tydren begin Vrydag 22 April. Die byeenkoms word oor twee dae beslis, met die tradisionele Sabie-dorpsneltrajek Vrydagaand op die program. Saterdag begin met die baie gewilde “Spaghetti Junction”-sneltrajek in Nelspruit voordat die deelnemers vir die res van die byeenkoms na grondpaaie terugkeer.

tgrsa16-leeroy-poulter-9_1800x1800

Posted on by jonckie

Comments Off on Toyota Gazoo Racing SA gereed vir Sasol Tydren